Local newsNews

Peyper-gesin groet hul geliefde pa en oupa

"Hy was 'n joviale soort mens met 'n lekker humorsin en 'n aansteeklike lag, maar mens kon ook diep luister na sy wysheid en raad."

 

VANDERBIJLPARK. – Familie en vriende van mnr. Danie Peyper (86) het Dinsdag hul laaste eer betoon aan dié jarelange inwoner, wat deur sy kleinkinders as ‘n “een-uit-‘n-miljoen-oupa” beskryf word.
Mnr. Peyper is op 9 Augustus aan hartversaking en algemene verswaktheid oorlede, slegs enkele dae nadat hy ‘n mediese prosedure aan een van sy longe ondergaan het.
Mnr. Peyper is op 17 Februarie 1937 in Rustenburg gebore en het in die vroeë 1950’s by die destydse Yskor in Vanderbijlpark begin werk, waar hy uiteindelik afgetree het. Hy was in sy werksjare onder andere ‘n tegnikus en skofvoorman in die staalsmeltery-afdeling.

In Vanderbijlpark se beginjare sou jy hom in sy vrye tyd gereeld langs die viswaters raakloop. Hy het in sy jong dae rugby vir Vanderbijlpark en Yskor gespeel en was tot met sy dood ‘n geswore Bloubul-ondersteuner.
“Hy was ‘n joviale soort mens met ‘n lekker humorsin en ‘n aansteeklike lag, maar mens kon ook diep luister na sy wysheid en raad. Hy was ‘n reguit soort mens wat nie ompaadjies geloop het nie. Altyd stiptelik en noukeurig,” sê ‘n familielid.

Sy gesin onthou hom by uitstek as ‘n omgeemens wat altyd reggestaan het om ander te help, en gereeld uitgereik het na mense in nood. En as die kerkraad te lank getalm het om ‘n behoeftige gesin te gaan bystaan, het hy sommer uit sy eie sak kruideniersware gaan koop en afgelewer. Sy kleinkinders en agterkleinkinders sal hom altyd onthou vir al sy liefde en bederf, sy interessante staaltjies en dat hy tyd gemaak het om saam met hulle te speel.

Mnr. Peyper word oorleef deur sy vrou Lenie, dogters Engela en Daleen, skoonseun Chris, ‘n suster, drie kleinkinders en agt agterkleinkinders. Sy begrafnisdiens het Dinsdag, 15 Augustus in die APK-gemeente in Louis Trichardboulevard plaasgevind. Die Peyper-gesin bedank almal wat hulle in dié hartseer tyd bygestaan en bemoedig het.

Wyle mnr. Danie Peyper
Mnr. Peyper word oorleef deur sy vrou Lenie.

Wyle mnr. Danie Peyper, hier saam met een van sy agterkleinkinders.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button