Local newsNewsNews

Aanranding lei tot dood

‘n Man wat ‘n ander man so erg met die vuiste toegetakel het dat hy later aan sy beserings beswyk het, is Woensdag, 16 Augustus na ‘n hofsaak van drie jaar in die streekhof in Sasolburg gevonnis.

SASOLBURG. – Johan Nel (35) van Sasolburg is tot sewe jaar direkte tronkstraf gevonnis nadat hy skuldig bevind is aan die moord op Werner Coetzee.

Nel en ’n vriend, Reimert Arangies (32) het Coetzee die aand van 21 Augustus 2020 by Nel se huis in De Miststraat gekonfronteer, waarna Nel die oorledene aangerand het.

Dit volg nadat die oorledene se vriendin Nel se karsleutels vroeër die aand by hom afgeneem het.

Die aanranding het gevolg toe die oorledene die sleutels van Nel se voertuig later die aand by sy huis gaan afgee het.

Johan Nel (35) van Sasolburg is tot sewe jaar direkte tronkstraf gevonnis nadat hy skuldig bevind is aan die moord op Werner Coetzee. Foto: Christiaan Cloete

Coetzee se vriendin, Luzette Botha, het glo vroeër die aand die sleutels van Nel se voertuig by hom afgeneem tydens ‘n onderonsie langs die pad, waarna Nel ‘n insleepdiens moes kry om sy voertuig tot by sy huis te sleep.

Coetzee het later die insleepdiens wat die kar verwyder het gebel en vasgestel dat Nel in De Miststraat woon, waarna hy na Nel se huis gery het om sy sleutels aan hom terug te besorg.

n Rusie het toe ontstaan. Coetzee se ribbes, neus en kakebeen is tydens die aanval gebreek en hy het ‘n breinbesering opgedoen.

Hy het later aan sy beserings beswyk. Nel en Arangies is later in hegtenis geneem en op waarskuwing vrygelaat. Arangies, wat saam met Nel van die moord aangekla is, is intussen onskuldig bevind.

“’n Familie het ‘n pa en broodwinner verloor en niks kan die oorledene terugbring nie,” het die streeklanddros tydens die vonnisoplegging gesê.

Sy het voorts  gesê dat die vonnis met ‘n mate van genade gemeng word, wat beten dat Nel veel minder as die voorgeskrewe minimum tronkstraf vir moord (15 jaar) sal uitdien.

Nel is deur die Vereenigingse prokureur, David Mey in die hof verteenwoordig.

Coetzee word oorleef deur twee seuns, onderskeidelik 10 en 12 jaar.

* Vaalweekblad het betroubaar verneem dat Nel van plan is om teen die vonnis te appelleer.

Die oorledene, Werner Coetzee. Foto: Verskaf

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button