Nuwe bootseisoen feestelik verwelkom
'n Jarelange tradisie waartydens booteienaars die nuwe seisoen verwelkom, gaan vanjaar herleef
VANDERBIJLPARK. – Lente is om die draai en die sonnetjie begin sy kop uitsteek… So, as jy ‘n boot het of net die opening van die bootseisoen op die Vaalrivier vanaf die oewer wil aanskou, maak seker jy is Saterdagoggend, 26 Augustus om 11:00 in die omgewing van die Baddriftbrug (digby Stonehaven-on-Vaal).
‘n Jarelange tradisie waartydens booteienaars die nuwe bootseisoen gaan verwelkom, gaan vanjaar herleef: Bote moet teen 11:00 by die brug gereedstaan vir die 11:30-wegspring van ‘n stadige vaart rivier-af na Millionaire’s Bend, en keer weer terug om 15:00.
Groot toerisme-bestemmings aan die Vaalrivier, soos Stonehaven, Riverside Sun, Emerald Resort en Liquid Lounge, sowel as sommige bootvervaardigers en verskaffers gaan deelneem aan dié opwindende geleentheid. Deelname is gratis en oop vir alle belangstellendes.
Daar sal “live bands” op die boonste dek van die Liquid Lounge en die Spirit of Jen wees, so, maak julle reg vir ‘n dag propvol lekker gees! Ander bote wat groot klankstelsels het, is welkom om mee te ding en die nuwe seisoen luid te verwelkom.
Valies wat nie bote het nie, is welkom om die vaart van 3½ uur op een van vier kommersiële vlotte mee te maak, met ‘n Smorgasbord-buffet wat ook aan boord bedien gaan word. Kontak Stonehaven by info@stonehaven.co.za of Liquid Lounge by info@liquidlounge.co.za vir meer inligting of om jou plek op een van die vaartuie te bespreek.
