Local newsNewsNews

Operasie groot kuier in die Vrystaat

Wanneer Sjef Pasch du Plooy aan die stuur van sake is, dan weet mens hier kom groot kuier en lekker eet. Lees meer...

DENEYSVILLE. – Op die pad tussen Heilbron en Deneysville sal jy die plaas Oppermanshoogte vind. Dis die tuiste van De Vry Distellery waar voormalige Kokkedoor Pasch du Plooy ‘n restaurant bedryf.

In wyn gedroogde biltong met ‘n soet chillie sous. Foto’s Gerda Bruinette

Hier word dinge anders gedoen. Neffens ‘n groot ou windpomp waarop die De Vry logo in kleur pryk, is ‘n ou skuur in ‘n lekker kuier venue omskep.

Alkante toe kan mens ver oor die Vrystaatse vlaktes sien. Binne heers ‘n gesellige atmosfeer met die son wat geel kolle oor die vloere verf.

Buite is die kleingoed aan’t speel op ‘n groot springkasteel. Dis ‘n spesiale geleentheid. Bernard Dewey van die Charmonix wynlandgoed in Franschhoek en Pasch het saamgespan vir ‘n unieke Sondagmiddagete.

Die gaste het van so ver as Johannesburg en Vanderbijlpark gereis. Met elke dis wat deur die kombuis opgetower word, is daar ‘n ander wyn wat saam bedien word.

Die middag skop af met in wyn gedroogde biltong met ‘n tuisgemaakte soet chilliesous. So reg uit die Vrystaat.

Die biltong bedien met ‘n glasie Rose is ‘n groot treffer en Bernard moet bontstaan om almal se vrae te beantwoord.

Die stukkie lekkerte word opgevolg met Franschhoek forel met groen appel en mint, saam met ‘n glasie koue Savignon Blanc.

Net voor elke gang bedien word, vertel Sjef Pasch eers meer oor hoe elke dis geskep is om ‘n kleurvolle kunswerk in die borde en ‘n smaakontlploffing op die pallet te veroorsaak.

Bernard vertel op sy beurt meer oor die verskillende wyne wat saam met die kos bedien word. Elke gas het ‘n ander gunsteling op die spyskaart.

Die voorgereg met geskroeide eend was ‘n treffer.

‘n Oom doop sy soetmieliebroodjie mildelik in die plaasbotter met heuning gemeng bakkie op sy tafel, terwyl ‘n ander aan die cumin plaaskaas weglê.

Dis die voorgereg wat vir my die lekkerste lekker is, geskroeide eend wat met elke happie wegsmelt in jou mond.

Die hoofgereg het ook sy wortels in die Vrystaat. Geroosterde lamsvleis met groente en ‘n bordelaise sous.

Met elke gereg raak die rooiwyn ‘n bietjie rooier. Daar is die Rouge, Pinotage en Cabernet Franc. Die gaste bly maar in twee kampe verdeel, die rooiwyndrinkers teenoor die witwyn voorstanders.

Maar almal proe en geniet en in die kombuis word die glimlagte al hoe breër, want dis leë borde wat terugkeer.

Nagereg is ‘n Rasta rum tiramisu met ‘n spesiale De Vry Gemmer Cocktail. Lank nadat die nagereg bedien is, word daar nog buite gekuier en koffie gedrink.

Geroosterde lamsvleis met groente en ‘n bordelaise sous.

In die bestek van ‘n paar uur het vreemdelinge oor alles en nog wat begin gesels. Voel of mens vriende groet al het ons nooit eens behoorlik naam en van gevra nie.

Maar dis die uitwerking wat hierdie plaas, sy mense en die kos op jou het. Sjef Pasch, wat van nou af gereeld ons lesers met een van sy resepte gaan bederf, sê hulle hou kort-kort die een of ander spesiale dag.

“Mense kan net ons Facebook dophou of die advertensies in die koerant. Daar word hoeka ‘n neus tot stert ete vir 26 Augustus beplan.”

Die ou windpomp bring sy eie beto wering op die plaas.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button