Die familie van die gesoute TV-joernalis Derek Watts (74) het vanmiddag die nuus bekendgemaak dat hy vanoggend (Dinsdag 22 Augustus) oorlede is.
Watts was dekades lank bekend as ondersoekende joernalis en aanbieder van die program Carte Blanche op MNet.
Hy is verlede jaar met velkanker gediagnoseer, wat na sy longe versprei het. Hy het in Junie vanjaar aangekondig dat hy as aanbieder van Carte Blanche uittree om op sy gesondheid te fokus.
Derek was in die laat 1990s in die nuus in Vaalweekblad nadat hy ‘n erf in die Emfuleni Gholflandgoed in Vanderbijlpark gekoop het. Hy het toe aan Vaalweekblad gesê dat hy dit as naweektuiste wil gebruik om uit die stadsgewoel te ontsnap.
Kykers sal hom nie net onthou vir sy uitstekende ondersoekende joernalistieke werk nie, maar ook vir sy rustige aard en empatie.
Hy was die afgelope maande te sien in ‘n humoristiese bier-advertensie met die slagspreuk “Lighten up”.
Van sy kollega en vriende beskryf dié besonder lang man op Twitter as ‘n “gentle giant”, ‘n “reus in die joernalistiek” en ‘n “genuinely nice guy”.


Rus in vrede Derek, ons gaan jou mis!
