Hawelose ‘n parapleeg na amputasie weens gangreen
'n Hawelose man wat beserings aan sy bene opgedoen het nadat sy slaapsak aan die brand geslaan het en later erge gangreen ontwikkel het is nou 'n parapleeg.
*Waarskuwing: Die storie bevat grafiese foto’s wat sensitiewe lesers kan ontstel.
VEREENIGING. – Vaalweekblad het in Julie berig oor Stephanus Frederick “Kai” Zeelie (55), ‘n hawelose man wat by die Sam Gross Jetty langs die Vaalrivier in Drie Riviere gewoon het, nadat hy erge gangreen aan sy bene opgedoen het.
Zeelie het glo by ‘n staatshospitaal aangeklop nadat hy gangreen in sy bene ontwikkel het, maar is glo weggewys omdat hy nie ‘n identiteitsdokument gehad of by die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) geregistreer was nie.
Dit volg nadat hy vroeër beserings aan sy bene opgedoen toe hy een aand langs ‘n vuur by die Sam Gross Jetty aan die slaap geraak en sy slaapsak aan die brand geraak het.
Nadat hy by die staatshospitaal weggewys is het die gangreen erger geraak.
Albei sy bene is intussen geamputeer.
Marie Myburgh Annandale, ‘n familielid, het hierdie week terugvoering oor Kai se toestand gegee.
Marie sê: “Hy kan net sy linkerhand gebruik en kan nie praat nie. Hy is nog in die Vereeniging Kopanong Hospitaal.”
“Hy het bedsere. Dit is groot bedsere. Sy oë is vol pyn. Ons is moedeloos.”
“Dit gaan nie goed nie en daar is nerens is ‘n plek wat hom kan opneem nie.”
Marie sê Kai sê die familie soek na ‘n plek Kai kan versorg.


