Ontmoet GTCoC se Sakeman van die Jaar – Henco
Henco Scheepers het in die Vaaldriehoek grootgeword alvorens hy 'n paar jaar in Johannesburg gaan werk het. Vandag is hy die trotse eienaar van sy eie onderneming in Vanderbijlpark. Lees meer...
VANDERBIJLPARK. – Henco Scheepers is onlangs as die Golden Triangle of Commerce (GTCoC) se Junior Sakeman van die Jaar aangewys.
Hy het sy besigheid, HS Supplies in Maart 2020 begin, slegs ‘n paar weke voordat die land in ‘n grendelstaat beland het weens die Covid-19 pandemie.
Waar ander teruggesit het in die tyd, het Henco besluit om vas te byt en voort te gaan.
Na die eerste drie weke (hy beskryf die eerste twee weke as vakansie en die derde week as ‘n straf) by die huis was hy verlig om te hoor noodsaaklike dienste kan voortgaan.
Hy het die nodige permitte bekom en begin om boere wat hy reeds in die Vrystaat ken te kontak.
“Dit was oestyd en ek het geweet die manne gaan olie nodig hê. Ek kon dit verskaf en ek het afgelewer,” onthou hy.
Dit het die grondslag van sy besigheid geword. Sy kliëntebasis het uitgebrei en vandag het hy kliënte dwarsoor die Vrystaat en Noordwes.
Die Vaaldriehoek was nog altyd in Henco se bloed. Hy is in Parys gebore, maar die familie het in 1992 na Vaalpark verhuis. Henco was in Laerskool D.F. Malherbe en het later aan die Hoërskool Transvalia gematrikuleer.
Op skool het hy sy sport baie geniet en het veral in rugby en roei uitgeblink. “Ek was bietjie lui om te leer,” erken hy met ‘n glimlag.
Kleintyd wou hy ‘n veearts word vir wilde diere en toe later ‘n bosbouer. Uiteindelik het hy na ‘n “gap”-jaar besluit om swaarstroom elektrisiteit by die VUT te gaan swot.
“Na twee jaar kon ek net nie meer nie. Dit was nie vir my nie. Ek het toe in Johannesburg gaan werk.” Later jare het hy na die Vaal teruggekeer en by sy skoonpa se onderneming ingeval, voordat hy sy eie besigheid begin het.
“Ek was ‘n groot introvert op skool, dit was eers toe ek verkoopsverteenwoordiger geword het, wat ek ontdek het ek is lief vir mense en kan gemaklik met mense oor die weg kom.”
Tegnologie staan hom nie aan nie. Hy verkies een tot een ontmoetings en sê alhoewel hy al ander verkoopsverteenwoordigers aangestel het, is daar kliënte wat hy steeds self gereeld besoek.
“Ek was juis gister weer in Makwassie,” vertel hy. Hy geniet dit om die lang pad te vat. Enige iets solank hy nie kantoorgebonde is nie. Hy hou nie van stilsit nie.
Die man is altyd aan die gang en sê sy vrou spot altyd omdat hy nie langer as ‘n halfuur na ‘n movie kan kyk sonder om op te spring en iets anders te gaan doen nie.
Sy vrou, Marilize is aan die stuur van finansiële sake by sy besigheid. “Sy keer as my idees te wild begin raak en wanneer sy dink iets gaan werk, is sy die wind onder my vlerke.”
Die egpaar het twee kinders. Henru (9) is in Laerskool Kollegepark waar hy uitblink in rugby en atletiek. Hul jongste Lené (6) is tans in graad R by Kabouter Kampus.
“Sy het reeds haar Vaaldriehoekkleure in gimnastiek verwerf,” vertel Henco trots. Met Marlize wat op haar dag Springbok was in dans, is dit te verstane dat die kleinspan ook goed vaar in sport.
Self is Henco en Marilize betrokke by die NWU Eagles waar Henco rugby afrig en Marlize spanbestuurder is.
Tussen deur alles probeer hy om elke dag by die gym uit te kom en as hy kans kry sal jy hom op die gholfbaan vind. Sy grootste passie is egter jag en skiet.
Die gesin is lief vir die buitelewe en is juis op pad vir ‘n wegbreek Bosveld toe. “Ek was van my kinderdae af lief vir die Bosveld, maar ons hou van die see ook,” beduie Henco oor ‘n beker koffie.
Hy groet op ‘n drafstap, want die onderneming het onlangs na ‘n nuwe perseel in Prime Business Park geskuif en daar is nog baie te doen voordat hy die langpad Hoedspruit se kant toe kan vat.
