All Things Adventure – Kom maak ‘n draai
Die All Things Adventure is aan die gang by Stone Henge buite Parys. Kom kuier saam... die prettighede hou aan tot laat vandag.
PARYS. – Vergeet van al jou sorge, laai die familie en kom ‘n draai by MooiVaal Media se All Things Adventure by Stone Henge net buite Parys.
Hier is al van vroegdag groot bedrywighede aan die gang, lekker kos om te eet en baie om te doen. Kom toets jou vernuf op die 4×4 baan, loop deur die stalletjies of kom toets jou skietvernuf met ‘n windbuks in die hand.

Daar is ook alles en nog om te sien by die stalletjie vir die vuurwapen-entoesias, en verskaffers wat jou kan help met die beste advies oor onder meer watter teleskoop vir jou sal werk.
As jy moeg gesukkel is met beurtkrag, kan kundiges van Universal Solar by hul stalletjie jou help met die beste opsies wat jou sak sal pas.
Dan is daar ook die Mej. All Things Adventure kroning om 16:00 die middag, en ‘n FI simmulator, springkastele en treintjieritte vir die kinders wat gaan sorg vir tone-krul lekkerte.
Kinders en volwassenes kan soos vorige jare inskryf vir die modder-uitdagins van die ‘Kids Badger Race en ’Badger Race’ vir volwassenes. Dit kan jy beslis nie mis nie – pa, ma en die kinders kan inskryf.

As jy hou van die buitelewe en om aktief te bly, kan jy nie die All Things Adventure misloop nie. Uitstallers van verskeie buitelewe gereedskap sal hier wees om jou met hulle nuutste op die mark reg te kry vir jou volgende avontuur – van voertuie en karavane tot bote en tente.
Met soveel om te doen is jy gewaarborg om lekker honger te raak. By All Things Adventure is daar ’n groot verskeidenheid kosse, lekkernye en koue verversings om van te kies.
Enige fees is nie volmaak as daar nie ook bietjie rustiger vermaak is nie. Daar is kunstenaars vir oud en jonk. Jy sal rustig kan sit en jou verversing geniet terwyl terwyl jy na die kunstenaars luister.
Kaartjies kos R80 vir volwassenes, R50 vir pensionarisse, en kinders tussen 6 en 12 betaal R40. Kinders onder 6 jaar kan die dag verniet kom geniet. Sorg dat jy nie uitmis op die pret nie!
