Oudraadslid Phillip in hospitaal kort na prestige toekenning
Mnr. Nothnagel is tans in 'n geïnduseerde koma in die waakeenheid na 'n skielike gesondheidsterugslag
Vaalweekblad verneem dat mnr. Phillip Nothnagel, bekende oudraadslid van Wyk 5 in die Emfuleni Plaaslike Raad, in ‘n geïnduseerde koma in ‘n Vaaldriehoekse hospitaal is nadat hy vroeër die week skielik asemnood ontwikkel het. Dit volg kort na die nuus dat hy tydens die DA se onlangse Provinsiale Kongres ‘n prestige-toenning ontvang het vir sy toegewyde diens in die gemeenskap en aan die party. Vaalweekblad hou mnr. Nothnagel en sy gesin in ons gedagtes deur hierdie gesondheidskrisis en sal lesers op hoogte hou van sy toestand.
Hier onder is die berig oor sy toekenning wat in hierdie week se uitgawe van Vaalweekblad gepubliseer is:
Oudraadslid Phillip ‘Mavusan’ kry gesogte toekenning
VANDERBIJLPARK. – Mnr. Phillip Nothnagel, bekende afgetrede stadsraadslid van die Emfuleni Plaaslike Raad, is onlangs tydens die DA se Provinsiale Kongres met een van die party se mees gesogte toekennings vereer.
Die “Lifetime Contribution to Democracy Award” is aan mnr. Nothnagel oorhandig vir sy volgehoue bydraes in die gemeenskap, sowel as vir die spreekwoordelike “ekstra myl” wat hy nog altyd geloop het in sake wat inwoners raak.
“Ek was baie verras om die toekenning te ontvang en beskou dit as die hoogste hoogtepunt van my politieke loopbaan,” sê hy.
Hoewel mnr. Nothnagel in 2021 as stadsraadslid van Wyk 5 in Emfuleni uitgetree het, is hy steeds aktief in die politiek betrokke en dien tans in die DA se Federale Raad.
Gedurende sy aktiewe werksjare was hy uitvoerende bestuurshoof van Vesco Community Enterprises (VCE) en het etlike jare in openbare skakeling in Sebokeng gewerk. Daar het hy die bynaam, Mavusan (’n persoon wat omgee vir die gemeenskap) gekry. Dié bynaam het tot vandag toe onder ‘n groot deel van die die swart gemeenskap vasgesteek, wat hom steeds met groot waardering en respek behandel.



