Totsiens en sterkte Maretha
MooiVaal Media groet ons advertensiebestuurder Maretha Lombard.
VANDERBIJLPARK. – Vir die afgelope 14 jaar was Maretha Lombard deel van die lief en leed by MooiVaal Media.
Eers as advertensieverteenwoordiger en vanaf 2016 as advertensiebestuurder. Nou staan sy op die punt om ‘n nuwe loopbaan avontuur te begin.
Van 1 September is Maretha die nuwe bemarkingsbestuurder by die Vaal Mall in Vanderbijlpark. Augustus was vir haar en almal by MooiVaal ‘n maand van gemengde emosies.
Natuurlik is ons saam met haar opgewonde en bly oor die nuwe geleentheid, maar ons gaan haar mis.
Maretha is by uitstek ‘n mense mens wie se teenwoordigheid sommer dadelik lewe in die kantoor gebring het.
Sy weet net hoe om enige situasie te ontlont en met haar aansteeklike lag is daar altyd vrolikheid in haar omtrek.
Nie dat sy ooit stilsit nie. Altyd op ‘n drafstap êrens heen met dosyne afsprake om na te kom.
Dis byna ondenkbaar om te weet sy gaan nie meer op spoed by die kantoor uitstorm met ‘n “goodbye people of the palace nie.”
Sy is op haar gelukkigste as sy met mense kan werk en kan met enige een ‘n gesprek voer. Almal word met dieselfde entoesiasme en liefde benader. Sy sien mense se harte raak.
“Ek aanvaar almal soos hul is en oordeel niemand nie. Jy weet, almal het mos maar hul swak- en sterkpunte,” beduie sy. “Ek het geleer daar is altyd ‘n ander kant en ek is nie altyd reg nie.”
Sy sluit haar loopbaan by MooiVaal Media op ‘n hoë noot af met die All Things Adventure dag in Parys op 26 Augustus.
Daarna gun sy haarself darem so ‘n dag of drie se blaaskans voordat sy volstoom by haar nuwe werk inval.
Haar kollegas by MooiVaal Media het haar Dinsdag, 22 Augustus verras met ‘n afskeidsfunksie waar daar baie gelag, gehuil en geëet is.
“Ek was baie jonk toe ek hier begin het. Om die waarheid te sê ek was vir lank die baba by MooiVaal. Hier het ek grootgeword en baie geleer. Ek sal julle mis, maar onthou dis ‘n maklike pad van hier af tot by Vaal Mall,” het sy gesê.
Vaalweekblad wens haar sterkte en voorspoed toe vir die nuwe hoofstuk in haar lewe. Ons gaan jou mis Mareets!
