Hartseer nuus: Awie verloor sy stryd na amputasies
Mnr. Esterhuizen is Vrydag oorlede na die onlangse amputasie-operasie van sy linkerbeen
VANDERBIJLPARK. – Na byna ‘n jaar se bekommernis, intense pyn en operasies om sy bene te amputeer, het mnr. Awie Esterhuizen (71) Vrydagmiddag sy stryd verloor.
Mnr. Esterhuizen se regterbeen is in September 2022 geamputeer weens komplikasies wat ingetree het as gevolg van gangreen. Dieselfde toestand het kort daarna na sy linkervoet uitgebrei en in Januarie vanjaar is ‘n gedeelte van die voet ook in die Baragwanath-hospitaal afgesit.
Buiten die gedeeltelike amputasie is ‘n operasie ook gedoen om ‘n aar vanaf sy lies tot by sy knie uit te haal en in die geaffekteerde weefsel oor te plant om bloedvloei na die amputasiewond te verbeter.
Die wond het die afgelope maande mooi begin herstel danksy uitstekende weeklikse wondsorg by Emfuleni Mediclinic in Vanderbijlpark. Die wond het ongelukkig vroeër die maand oornag versleg omdat die aar wat in sy been ingeplaas is om bloed aan die voet te voorsien, skielik verstop geraak het. Awie se gesin het hom terugeneem na die Baragwanath-hospitaal, waar hulle gehoor het dat sy linkerbeen ook tot bo die knie geamputeer sal moet word. Daar was egter nie plek om hom op te neem nie, waarna hy teruggekom het na Vanderbijlpark. Die amputasie is toe Vrydag 11 Augustus by Cormed gedoen en hy is die Maandag ontslaan.
“Hy het by die huis aangesterk en die wond het mooi begin genees. Hy sou Dinsdag, 29 Augustus, teruggegaan het Cormed toe om te kyk of die steke en krammetjies verwyder kon word, maar hy het Vrydag, die 25ste, begin sukkel om asem te haal. My ma het my gekontak by die werk, en ek het dadelik ER24 gekontak. Hulle was vinnig daar om my pa te help. Hulle het gesê my pa se suurstoftelling is 95, so hulle het vermoed dis dalk ‘n angsaanval. Ek het die dokter gebel en ons het besluit om hom wel Cormed toe te vat sodat ons net kon seker maak wat aangaan. Nadat hulle ‘n geruime tyd met hom besig was, het die dokter die tyding aan ons oorgedra dat ‘n bloedklont deur my pa se long en toe deur die brein is. Hulle het alles gedoen maar kon my pa nie terugbring nie,” sê sy dogter Christelle.
“Ons wil graag almal bedank wat ons deur ons pa se siekte bygestaan en gehelp het. Sonder almal se hulp sou ons nie so ver gekom het (met sy behandeling) nie. Ons sal die fondse wat ingekom het, vir sy begrafnis gebruik. Nogmaals baie dankie aan almal,” sê Christelle.

