Mieke (8) lewe om te kan dans
Mieke Lubbe se sterretjie blink helder nadat sy onlangs uitstekend by verskeie dans kompetisies gevaar het.
VANDERBIJLPARK. – Met die eerste kennismaking is Mieke Lubbe skaam en kruip agter haar ma, Monique weg. Skoon verbouereerd met die vreemde tannie wat met haar wil gesels.
Sy is by uitstek ‘n introvert, totdat sy op ‘n verhoog losgelaat word. Mieke is net 8 jaar oud, maar sy het al haar buiging as danser op ‘n internasionale verhoog gemaak.

Sy het van 3 tot 8 Augustus vanjaar aan ‘n danskompetisie in Ierland deelgeneem. Hier het sy ‘n derde plek losgedans vir Lyrical en ‘n algehele sewende plek vir Jazz.
Die kompetisie is aangebied deur die World Lyrical Dance Federation en dansers van onder andere Suid-Afrika, Noord en Suid Ierland en Skotland het deelgeneem.
Sy was skaars terug in die land toe was dit tyd vir die Del Arte Eisteddfod en die Show Your Talent kompetisies. By Del Arte het sy ‘n uitstekende A++ losgedans, maar dit was by Show Your Talent waar Mieke behoorlik geskitter het.
Sy het in die uitdunrondtes goud verower en is uitgenooi na die gala aand waar sy nie net goud verower het nie, maar die hoogste punt van al die ouderdomsgroepe vir Jazz verdien het.
Nou staan haar kop New York toe waar sy volgende jaar aan die internasionale Show Your Talent gaan deelneem.
Haar eerste kennismaking met die internasionale verhoog was meer senutergend vir haar ma, Monique en haar dansafrigter Leandi Goosen van Just Dance Studio as vir haar.
Die twee erken hulle het voor elkeen van Mieke se optredes eers met mekaar oor ‘n video oproep gesels en sommer lekker saamgehuil ook.
Super trots op die jongeling wat al so baie vermag het. Mieke dans vandat sy drie jaar oud is en geniet elke oomblik daarvan. Sy speel ook hokkie, maar haar dans kry altyd voorkeur.
Sy droom daarvan om eendag ‘n veearts te word. By die huis is haar beste vriend haar hond Njala, ‘n St. Bernard wat groter is as sy.
