Dansers se top vertonings
Just Dance Studio se jong dansers blink uit in alles van Hip Hop tot by Jazz.
VANDERBIJLPARK. – Die jong dansers van Just Dance Studio het die afgelope maand by verskeie kompetisies geskitter.
Hul afrigter, Leandi Goosen sê sy is baie trots op die studio se dansers wat net weer eens bewys het dat harde werk en deursettingsvermoë vrugte afwerp.
Die dansers het aan die Del Arte Eisteddfod in Unitaspark deelgeneem waar hul 10 ++, 11 A+, 3 A’s en 1 B+ verkry het.

Die 19 dansers tussen die ouderdom van 5 en 16 jaar het aan 25 items deelgeneem wat onder andere Lyrical, kontemporêr, Jazz, duette en die ope-afdelings ingesluit het.
Leandi sê die jonger dansers se Mad Scientists was ‘n groot treffer, terwyl die ouer dansers se Dark Africa nommer in die ope-kategorie ook besonder goed gevaar het.
Slegs ‘n dag na hul puik prestasies by die Eisteddfod het die dansers die groot verhoog by Show Your Talent aangedurf wat by CURRO in Vanderbijlpark gehou is.
Ook hier het hul uitstekend gevaar en drie hoë goud, 23 goud en een hoë silwer plek behaal. Leandi sê almal wat goud verower het, het daarmee ook gekwalifiseer vir hul Gauteng kleure.
Twee van die groepsnommers, twee duette en drie solo danse het ook by die Show Your Talent se gala aand opgetree.
AIRFCE Crew het tweede algeheel geëindig nadat hul die hoogste punte vir Hip Hop in die kompetisie gekry het, terwyl hul afrigter Tyla Dos Santos ‘n algehele vyfde plek met haar Hip Hop solo verdien het.

Mieke Lubbe het die trofee ontvang vir die hoogste punte in die kompetisie se Jazz dansafdeling.
Die Just Dance Studio se dansers sien uit na heelwat ander vertonings en kompetisies die jaar, onder andere die SA Dance School Championships en die Vaal Triangle Dance Festival.
