Larissa Maritz: ‘Bewerings teen my oor bedrog is vals!’
"Almal wat op sosiale media 'gescam' is, wil dit nou wederregtelik na my toe herlei," sê mev. Maritz
“My naam word wederregtelik ingesleep by bedrogsake waarvan ek niks weet nie. Ek het nog nooit in my lewe ‘n skuilnaam van die bedriegster Jenny of Jennifer Pretorius gebruik nie en weet nie wie sy is nie. Die aantygings teen my is absoluut vals.”
Só sê Larissa Maritz, wie se naam betrek is in onlangse voorvalle van aanlynbedrog waarin verskeie Vaaldriehoekse inwoners uit duisende rand gekul is.
Vaalweekblad het onlangs berig dat ‘n Vereenigingse sakeman sy R6 000-deposito vir ‘n huurhuis, wat op die Facebookgroep “Midvaal Te Huur” geadverteer is, kwyt is nadat die beweerde verhuurder (ene Jennifer Pretorius) alle kontak met hom verbreek het nadat die geld in haar rekening inbetaal is. Die “weelderige vierslaapkamerhuis” wat sy as te huur in Meyerton geadverteer het, bestaan blykbaar nie.
Volgens die sakeman wat in die bedriegster se strik getrap het, het “Jennifer” of “Jenny” aanvanklik vir sekuriteitsdoeleindes ‘n deposito van R12 000 geëis voordat hulle die huurooreenkoms kon teken en sy die presiese adres aan hom sou verskaf om na die huis te gaan kyk. Hy was egter net bereid om die helfte van die deposito in haar Capitec-rekening in te betaal, wat sy toe aanvaar het. Hy het daarna gewag vir die adres sodat hy en sy vrou na die huis kon gaan kyk, maar die “verhuurder” het haar selfoon afgeskakel nadat die geld in haar rekening inbetaal is. Die sakeman kon haar tot dusver nie weer telefonies bereik nie en die advertensie is intussen uit “Midvaal Te Huur” verwyder.
Nadat die sakeman die voorval by Mike Bolhuis se ondersoekdiens aangemeld het, is vasgestel dat die span private speurders reeds ‘n geruime tyd besig is met soortgelyke ondersoeke waar skuilname soos Seun Divan Rust, Melandrie, Michalene Pretorius, Mariska Maritz, Jenny Pretorius, Vanessa Opperman, Jean-Pierre Pretorius, Sam Klopper, Liehanke Bekker en Jeandray du Plessis glo op Facebook gebruik is om niksvermoedende mense uit hul geld te swendel.
‘n Inwoner van Komatipoort, Larissa Maritz, se naam is onder andere betrek as die meesterbrein agter die bedrogsake. Sy ontken egter ten sterkste dat sy al ooit kontak met die Vereenigingse sakeman gehad het of dat sy die “Jennifer Pretorius” is wat sy geld gesteel het.
“Ek bly in Marlothpark in Komatipoort. Ek weet nie eers waar die Vaaldriehoek is nie. Ek verdien my inkomste op ‘n eerlike manier met ‘n shuttle-diens en ek verkoop handgemaakte kunswerke by markte in my omgewing. Die aantygings oor bedrog teen my is absoluut vals. Dit is ‘n vendetta teen my wat al drie jaar aanhou. Almal wat op sosiale media ‘gescam’ is, wil dit nou wederregtelik na my toe herlei,” het sy vroeër die week aan Vaalweekblad gesê.
Berig2:
Verskeie Valies op selfde manier uit hul deposito’s gekul
Nadat ‘n berig, “Beweerde bedriegster glo ook in Vaal bedrywig” vroeër die maand op Vaalweekblad se webwerf en Facebook gepubliseer is, het nog mense na vore gekom wat sê dat hulle op ‘n soortgelyke manier geld verloor het. ‘n Inwoner van Risiville is haar R5 000-deposito kwyt nadat sy ook op die Facebook-groep “Midvaal Te Huur” op ‘n advertensie vir ‘n woonstel gereageer het. Die verhuurder het onderneem om die presiese adres van die woonstel in McFarlanestraat, Risiville te verskaf sodra die deposito inbetaal is. Nadat die oordrag gedoen is, het die verhuurder egter haar foon afgeskakel en kon nie weer bereik word nie.
Verskeie mense is die afgelope weke op dieselfde manier uit derduisende rand gekul. Me. Chistel van Tonder en me. Chrisinda Prinsloo sowel as ander vroue wat anoniem wil bly, sê hulle was ook almal slagoffers van ‘n bedriegster of ‘n sindikaat, wat verskillende skuilname gebruik het. Hul gesamentlike verliese beloop etlike duisende rand.
Nog ‘n voornemende huurder, me. Marilize Steyn, het egter betyds lont geruik en ‘n transaksie om ‘n huis te huur, gestop. “Ek is ook amper ingedoen maar toe die verhuurder nie die adres wou gee nie, toe weet ek. Sy sit nou wel met al my persoonlike inligting en bankstate,” sê sy.
Vaalweekblad het intussen met Capitec se bedrogafdeling kontak gemaak om uit te vind of hulle kan vasstel wat die ware identiteit en besonderhede van die bedriegster, mev. J.I. Pretorius is, in wie se rekening deposito’s inbetaal is. Volgens Capitec mag die inligting nie aan Vaalweekblad bekendgemaak word nie, maar almal wat deur die persoon ingeloop is, word versoek om die bank se bedrogafdeling by 0860 10 20 43 te skakel sodat dit behoorlik ondersoek kan word.
* Volgens Mike Bolhuis se ondersoekdiens is verskeie voorvalle van soortgelyke bedrog by hulle aangemeld nadat Vaalweekblad se berig gepubliseer is. Hul ondersoek word voortgesit.
‘n Admin van die Facebookgroep “Midvaal Te Huur”, het aan Vaalweekblad gesê die groep is oop vir enigiemand om advertensies te plaas van eiendomme wat te koop of te huur is. Die groep-admins is ongelukkig nie by magte om die bona fides van elke adverteerder in die groep na te gaan nie. Voornemende huurders word aangeraai om dadelik ‘n transaksie te stop as hulle onraad vermoed, en liefs van bekende eiendomsagente se dienste gebruik te maak.

