Jong dramastudente presteer
Die Akademie vir Dramakuns (ADK) se studente floreer op die verhoog.
VANDERBIJLPARK. – Dit het behoorlik gegons in die kultuurkringe van die Vaal tussen 4 en 12 Augustus. Suid-Afrika se Show Your Talent uitdunrondtes en finale is by CURRO Vanderbijlpark gehou.
Deelnemers van verskeie provinsies het in oor die 100 afdelings meegeding, wat alles ingesluit het van dansduette tot by musiek, sang, modelwerk, monoloë en gedramatiseerde gedigte.

Franciska van der Merwe van die Akademie vir Dramakuns (ADK) in Vanderbijlpark sê drie van haar jong akteurs het uitstekend by die kompetisie gevaar.
Al drie het goud verower in hul onderskeie kategorieë deur die week en is toe genooi om aan die finaal deel te neem Saterdagaand.
Die jongste van die ADK se blink trio is Lycan Lerm. Die 8-jarige dramastudent is tans ‘n graad 2 leerling aan die Laerskool D.F. Malherbe. Sy het goud verower in die gedramatiseerde gedigte afdeling met die gedig, Die Nuwe Waghond deur Jaco Jacobs.
Lycan neem al vir drie jaar dramaklasse en sê sy geniet ook gimnastiek, atletiek en netbal. Op die stadium is wiskunde haar gunstelingvak op skool en sy droom daarvan om eendag ‘n aktrise en ‘n veearts te word.
Ethan Greaves, ‘n graad 11 leerder van die Hoërskool Driehoek het in die uitdunrondte goud verower in die afdelings Poetry en Dramatised Poetry. In die finaal het hy die hoogste punt in sy afdeling gekry.
Die twee gedigte wat hy voorgedra het was The Hermit deur Alan Paton en Foodpath van Stella Ngatho.
Ethan het in graad 3 al met dramaklasse begin en beskou dit as ‘n ontvlugting. Alhoewel hy baie lief is vir kuns en drama, wil hy graag na skool aktuaris word.
Marzhaan Seyffert voltooi die ADK se ster trio. Sy het met haar dramatiese monoloog, Om te kan vlieg, goud in die uitdunne verower en die hoogste punte in die finaal behaal.
Marzhaan is tans ‘n matriekleerling van Hoërskool Driehoek en geniet haar drama terdeë.
Sy het reeds Drama NQF vlak 4 geslaag en is baie trots op haar eerste dramastudent, Luhan du Toit, wat onlangs ‘n A++ by ‘n kunstefees met sy voordrag behaal het.
Sy is ‘n gebore onderwyseres en sien uit daarna om volgende jaar laerskoolonderwys te gaan swot. Naas drama rig sy onder andere ook ritmiese gimnastiek af.
