KYK: Massiewe rioollek suid van Johannesburg
‘n Massiewe rioollek suid van Alberton, wat veroorsaak dat honderde liter rou riool daagliks in die Kliprivier in stroom, word glo al die afgelope drie jaar herhaaldelik deur inwoners van die omliggende gebied gerapporteer sonder dat dit herstel word.
DALESIDE. – Vaalweekblad het vroeër die week op versoek van inwoners van Daleside gaan ondersoek instel nadat ons klagtes ontvang het oor die enorme hoeveelheid water wat in ‘n veldjie tussen die R59-snelweg en Vereenigingweg (net suid van die Kliprivier-afrit) opdam.
Volgens ‘n inwoner veroorsaak die rioollek dat duisende liter rou riool daagliks in die Kliprivier in stroom en waterweë stroomaf besoedel.
Lugfoto’s wys die skaal van die besoedeling wat besig is om plaas te vind.
Vanuit die lug kan mens die enorme hoeveelheid water sien wat in die gebied opdam.
Die water vloei direk in die Kliprivier.

Die bron van besoedling is in ‘n drein wat besig is om oor te borrel net suid van Thokoza (Uitbreiding 5).
Die ontdekking volg skaars ‘n paar dae nadat die minister van water en sanitasie, Senzo Mchunu, die Vaaldriehoek besoek om te kyk na die vordering wat tot dusver gemaak is met die Sedibeng-rioolskemaprojek en Vaalrivierstelsel-intervensies.
Die intervensies volg nadat die department van water en sanitasie ingevolge artikel 63 die water- en sanitasiedienste van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit oorgeneem het omdat die munisipaliteit nie in staat was om dit te doen nie.
Hoewel Mchunu optimisme uithgespreek het oor die vordering wat tot dusvêr gemaak is het die departement van water en sanitasie erken dat daar nog baie werk nodig is om waterinfrastruktuur te herstel.
Baie van die probleme word veroorsaak deur verouderde infrastruktuur en ‘n gebrek aan instandhouding.



