Feesmaal vir die lewe se weeskinders
NG Suid in Vanderbijlpark het onlangs 'n spesiale feesmaal aangebied.
VANDERBILPARK.- Ds. Eon Coetzee van NG Vanderbijlpark Suid het onlangs ‘n preekreeks gelewer oor etes waarby Jesus betrokke was. Lukas 14 het in sy kop vasgesteek.
Volgens die Bybel het Jesus gesê dat jy mense na ‘n feesmaal moet nooi wat nie op hul beurt vir jou iets kan doen nie. ‘n Feesmaal sonder enige voorwaardes vir vreemdelinge in nood.
Hy het besef die preek moet in die praktyk toegepas word en sy idee met die gemeente gedeel. Die gemeente het oorweldigende steun gebied en daar is begin om voorbereidings vir die feesmaal te tref.

“Ons het ‘n lys van mense vir wie ons elke twee maande kospakkies gee en ons het hulle eerste genooi. Daarna het ek uitnodigings by die mense wat by die verkeersligte bedel gaan uitdeel,” het Eon vertel.
Die groot dag is beplan vir Woensdagoggend, 16 Augustus. Met ‘n winkel wat vir hul die kos en borde teen afslag verskaf het en die gemeentelede wat mildelik bygedra het, was dinge vroegdag al by die kerk in rep en roer.
Tafels is gedek en die kerk het hul beste eetgerei te voorskyn gebring. Die vrywilligers het gereed gestaan om welkom te heet, op te skep, te bedien en op te ruim.
Die 65 gaste het opgedaag. Almal weeskinders van die lewe. Dit was ‘n mengelmoes van tale en ouderdomme wat om die tafel sitplek ingeneem het.
“Dit was regtig die armstes van die armes wat opgedaag het. Van hulle het net een stel klere, ander slaap waar hul ook al ‘n plekkie in die nag vind. Elkeen is met ope arms verwelkom,” onthou Eon.

Vir die gaste was dit ‘n aangename verrassing om rustig te kon sit en vir ‘n paar uur van al hul sorge te kon vergeet.
Hulle is aan tafel bedien en het hul tuisgemaakte sop voorgereg, bord kookkos vir hoofgereg en nagereg van roomys met sjokoladesous baie geniet. Elkeen het ook ‘n sjokolade, sap en ‘n appel ontvang.
Na die ete kon elke gas ‘n kombers en klere kies wat deur die gemeente geskenk is. “Ons gaste was ongelooflik dankbaar,” vertel Eon, “maar ek dink vir elkeen van ons was die ervaring selfs groter.
“Ons was emosioneel uitgeput na die dag, maar dit was so ‘n seën. Ja, ons kan nie langtermyn ‘n verskil maak nie, maar vir daardie paar uur het ons elkeen laat besef hulle het ook waarde. Die Here gee om vir elkeen.”
Hy het die versekering gegee dat meer sulke etes in die toekoms beplan word.
