Onwettige stortingsterrein raak al groter
Daar heers kommer oor 'n onwettige stortingsterrein langs die R59 (tussen Redan en Rothdene) wat al groter raak.
VEREENIGING. – Inwoners van Redan kla oor ‘n vreeslike stank en die reuk van gebrande plastiek wat van die stortingsterrein afkomstig is.
Die stortingsterrein lok ook plakkers en heelwat gehuggies het oor die afgelope paar weke daar opgespring soos die stortingsterrein al meer herwinnaars lok.

‘n Inwoner vertel: “Die hoop gemors word by die dag al langer en strek nou al van die R59 tot teen aan die Samancor-pad (M 61). Daar word elke aand rommel aan die brand gesteek, wat rook en ‘n verskriklike stink reuk veroorsaak.”
“Almal van Arconpark, Duncanville, Drie Riviere en omliggende gebiede kom laai deesdae hulle vullis hier af.

“Hierdie storingsterrein hou net nie ‘n gesondheidsrisiko vir die kinders van die nabygeleë Springfield Junior Sekondêre Skool in nie, maar stel ook die kinders se veiligheid in gedrang,” meen die inwoner.
Die skool is reg oorkant die pad van stortingsterrein.

Volgens die inwoner is die probleem al male sonder tal by die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit aangemeld, maar geen daadwerklikke stappe is nog geneem om die probleem aan te spreek nie.
Die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit het in ‘n verklaring wat vroeër vandeeswaak uitgereik is homself van die stortingsterrein gedistansieër en sê dit val binne die munisipale grense van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit.

Volgens die verklaring het Midvaal reeds die Groen Skerpioene, sowel as die Gautengse departement van landbou en landelike ontwikkeling oor die onwettige stortingsterrein genader.
“Midvaal sal aanhou om alle wettlike roetes te volg ten einde ons omgewing te red,” sê Midvaal in die verklaring.
Makhosonke Sangweni, ‘n woordvoerder vir die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, sê ‘n inspeksie van die onwettige stortingsterrein, sowel as verskeie ander brandpunte is reeds gedoen.
Hy sê dat wetstoepassingsagentskappe die probleem in samewerking met die departement van binnelandse sal aanspreek.
Volgens Sangweni was daar ‘n skoon maakveldtog vir Augustus beplan, ongelukkig is dit weens “verminderde vlootkapasiteit” uitgestel.

Die onwettige stortingsterrein en herwinningstasie strek van die R59 tot teenaan die M61 (Samancor-pad). Foto: Christiaan Cloete

