Sjef Pasch se lamsribbetjies
Kokkedoor wenner 2019 Pasch du Plooy deel hierdie week sy lamsribbetjieresep met ons. Dit kan in 'n "airfryer" of in die oond gaar gemaak word. Lees meer...
Daar is min bestanddele wat meer met die Vrystaat geassosieer word as lamsvleis. Selde is daar ‘n braaivleisvuur waar daar nie lamtjops of -ribbetjie op die spyskaart is nie
Hierdie is my maklike “go to” lamsribbetjie resep vir wanneer jy nie kan braai nie, maar steeds lus kry vir daardie lekker uitgebraaide lamshappie.
Dit is ideaal vir ‘n maklike voorgereg of selfs hoofgereg.
Lamsribbetjies in die lugbraaier (airfryer)
Voorbereidingstyd – 20 min. Kooktyd – 40 min. Bedien – 4 mense
Bestanddele vir lamsribbetjies
600g lamsribbetjies in enkel ribbetjies gesny, vra jou slaghuis of beskikbaar by Woolworths.
Oosterse braaisous
½ koppie soja sous, verkieslik die groen bottel
¼ koppie water
2 eetlepels tamatiesous
2 eetlepels heuning
2 teelepels bruinsuiker
1 suurlemoen se sap
1 knoffelhuisie, fyn gerasper
1 x 2cm groot stuk gemmer, geskil en gerasper
1 teelepel rissievlokkies, of minder na smaak
Klein knippie sout, of na smaak
2 eetlepels geroosterde sesam sade
Metode vir die Oosterse braaisous
Om die Oosterse braaisous te maak, voeg jy al die bestanddele vir die braaisous in ‘n klein potjie. Oor medium hoë hitte bring jy die marinade tot kookpunt. Kook vir 1 minuut, net om die knoffel en gemmer gaar te maak en die suiker op te los. Verkoel in die yskas totdat jy dit benodig.
Vir die ribbetjies
Verhit jou lugbraaier of oond tot 180 grade. Plaas jou ribbetjies in die lugbraaier, netjies, sodat hulle nie opmekaar is nie (as jy ‘n oond gebruik, plaas jou ribbetjies op ‘n roosterrak, bo-op ‘n bakplaat en maak seker jou oond se waaier is aan).
Braai jou ribbetjies teen 180 grade vir 15 minute. Na 15 minute begin jy hulle lekker verf met jou braaisous.
Draai jou hitte op na 200 grade en braai hulle vir 10 minute. Na 10 minute verf jy hulle weer.
Braai vir nog 5 minute en laat hulle vir 5 minute staan voor jy hulle bedien. Bedien met vars lemmetjie- of suurlemoen wiggies, en bedruip met die laaste braaisous en besprinkel met sesam sade.
Ekstra: Vars brandrissie is opsioneel, maar gee wel ‘n aangename byt.
Wenk: Ek verdubbel die resep graag want dit is net nooit genoeg nie.
Resep: Pasch du Plooy.
