Sonika Verwey, sonskynmens met ‘n goue hart
Sonika Verwey soek altyd die mooi in die lewe, met 'n oop hart en hand vir almal om haar. Lees meer...
VANDERBIJL PARK. – Dis onmoontlik om Sonika Verwey met een woord te probeer vasvang. Sy straal lewensvreugde, en kan as energiek, gelowig, dankbaar en geseënd beskryf word.
Wat sy het, deel sy graag en vir haar kliënte by haar skoon heidsalonne in Parys en Vanderbijlpark het sy altyd tyd. “Ek is ‘n plaasmeisie,” vertel sy met ‘n glimlag. “
Ek het op ‘n plaas grootgeword in Middelburg, Mpumalanga.” Sy het haar skoolloopbaan in Johannesburg voltooi en daarna ook skoonheidstegnologie in die stad geswot. Haar suster het in Parys gebly en Sonika het gereeld gaan kuier.

“Met elke kuier het ek so ‘n bietjie meer goed saamgebring. Ek was verlief op Parys. Dit was vir my platteland en het my aan die plaas herinner.”
Dit was vir haar net logies om haar praktiese ure by ‘n salon in Parys te voltooi en het nadat sy gekwalifiseer het, ook daar by ‘n salon begin werk.
Hier het sy ook haar eerste salon oopgemaak en vandag gaan sy steeds twee keer ‘n week Parys toe vir haar kliënte daar.
Die salon in Vanderbiljpark het sy in Mei oorgeneem saam met Hester Davis vir wie Sonika baie respek het en sy sê “ek sou sonder haar nie die besigheid kon doen nie.”
Sonika glo daaraan om dit waarmee sy geseën is met ander te deel. Sy was onlangs juis betrokke by die spesiale spadag wat vir die inwoners van Leeuhof gereël is.

“Nou die dag het ek ons huis beskik baar gestel vir iemand wat ‘n kombuistee wou hou. Toe ons die middag terugkom was die mense nog besig en ons wou hul nie steur nie. Toe klim ons maar oor die heining en sluip by die agterdeur in,” lag sy.
Sonika is getroud met GTCoC voorsitter, Jaco Verwey. “Ek het lank gebid om die regte man te kry en toe ek Jaco ontmoet het, het hy geen van my boksies getick nie.
“Ek het altyd gesê ek wil nie met ‘n Jaco trou nie, en hy moenie al kinders hê, gholf speel of ‘n prokureur wees nie. Wel, toe stuur die Here Jaco op my pad. Geskeide pa van twee seuns, wat gholf speel en op sy dag vir ‘n prokureur geswot het,” lag sy lekker.
Vandag is Sonika baie lief vir Jaco se twee seuns en saam het hul ‘n byna vierjarige woel water. “Die manne hou my op my tone, maar ek geniet hulle” vertel sy.
“Ek is ‘n introvert. Jaco is die ekstrovert, maar hy is altyd daar vir my. Ek is regtigwaar geseën.”
Sonika geniet dit om foto’s te neem. “Sommer met my selfoon, maar ek neem baie foto’s. Ek glo daaraan dat herinneringe vasgevang moet word.
“My ouers is albei al oorlede en ek het net twee foto’s wat ek vir my kinders kan wys van hoe hul ouma gelyk het.”
Sy beskou haar werksplek ook as haar bediening en sê sy bid en seën elkeen wat by die salon inkom. “Nou nie hardop nie, maar ek doen. Dis vir my belangrik dat elkeen wat ek teëkom beter moet wegstap as toe ek hul ontmoet het.”
Sonika glo nie daaraan om terug te sit en te wag dat ander moet uitspring en help nie. Sy doen dit self en sê ‘n mens kan nie ‘n verskil maak as jy in jou comfort zone sit nie.
Bowenal hou sy vas aan haar geloof en soek altyd die mooi in die lewe. “Ek kies om die mooi te sien.”
Dan geniet sy ook die gesin se tye saam op die kleinhoewe waar hul bly. Hier het sy onder andere ‘n kalf Mina wat sy hans grootgemaak het, twee donkies met die name van Daisy en Coco en ‘n Yorkie wat gered is wat as Rouchi bekend staan.
Miskien is daar tog een woord wat Sonika kan beskryf en dis sonskyn. Daardie sonskyn wat deurbreek na ‘n donker nag of ‘n hewige storm. Pure sonskyn en liefde.
