Franz en Gunther, ‘n gedugte kombinasie
Met Gunther op volle sterkte, was hierdie jaar se orrel marathon weer 'n treffer. Lees meer...
VANDERBIJLPARK. – Die diep klanke van die pyporrel het al van 07:00 af opgeklink. In die aangrensende saal met die deure oop sodat die orrel in die oog gehou kan word, is boeretroos, tee en lekkernye bedien.

Buite was dit ‘n miernes van bedrywighede. Dit was weer tyd vir NG Driehoek se jaarlikse kermis. Hierdie jaar is dit weer gekombineer met ‘n orrel marathon van 12 uur.
Franz Geldenhuys, die gemeente se musiekdirekteur en musiekonderwyser by Hoërskool Vaalpark, het die keer die marathon aangepak ten einde fondse in te samel vir NG Memel se ou pyporrel.
Franz, wat al van kleintyd af ‘n sagte plek vir die tradisionele pyporrels het, is op ‘n missie om die ou grotes te restoureer.
Verlede jaar het hy die eerste van sy orrel marathons aangepak op die pyporrel by Driehoek gemeente. Die orrel is Gunther gedoop.
Die marathon was ‘n groot sukses en onlangs is Gunther tot sy volle glorie herstel. Saterdag kon Gunther sy restourasie behoorlik vier onder die meesterlike hande en voete van ‘n orrel maestro.
Hierdie jaar het Franz weer die ou meesters van Bach tot Beethoven gespeel en ook meer moderne treffers van ABBA tot by Queen.
Dan het hy ook kort-kort die mikrofoon uitgepluk en ‘n sangitem of twee in ‘n sessie ingewerk. Laatmiddag het sy vertolking van Jerusalem vir hoendervleis oomblikke gesorg.
Die meeste buite bedrywighede was reeds verby, maar by die koffiesaal het dit nog gegons.
“Ek is moeg, maar ons druk deur,” het Franz met sy kenmerkende glimlag gesê.
Video’s van die dag se orrelspel is op die YouTube kanaal, NG3hoek beskikbaar. Kliek net op “live” video’s.
