Local newsNews

Michael verjaar vandag – en kon al sy 1ste treë gee na amputasie

Veels geluk, liewe Michael, die Vaaldriehoek wens jou baie geluk en ons bid en vertrou dat jy gou beter gaan word en huis toe kan kom!

 

Na al die intense hartseer van die afgelope 2 maande was daar Vrydag – op Lentedag – rede vir bietjie meer blydskap toe Michael Pretorius sy eerste treë met ‘n loopraam kon gee na sy onlangse been-amputasie.
Michael en sy broer Nicky (22) was op 28 Junie in ‘n ernstige motorongeluk tussen Vaalpark en Sasolburg betrokke. Albei is baie erg beseer en Nicky het die volgende oggend in die hospitaal gesterf.
Na twee maande wat dokters alles in hul vermoë gedoen het om Michael se linkerbeen te red, moes hulle op 23 Augustus die stryd gewonne gee en die been amputeer.
Vandag, Sondag 3 September, vier Michael sy 22ste verjaardag en sy gesin en vriende beplan om dit ‘n gesellige kuierdag vir hom te maak.
Dink asseblief steeds aan Michael en sy ouers. Al is daar beterskap gaan hulle steeds deur ‘n baie moeilike tyd.

* Die gesin het steeds groot geldelike uitdagings om Michael in sy herstelproses by te staan en vir sy prostese te betaal. Enigiemand wat hulle finansieel wil ondersteun, kan ‘n inbetaling doen aan NS Pretorius, Capitec, rekeningnommer: 1960649688.
Lees ook hier onder die berig wat in Vaalweekblad van 25 Augustus verskyn het. (WAARSKUWING: Die foto’s onder kan sensitiewe lesers ontstel.)

Michael se been afgesit weens nekrose

Na twee maande wat dokters alles in hul vermoë gedoen het om Michael Pretorius (21) se linkerbeen te red, moes hulle Woensdag (23 Augustus 2023) die stryd gewonne gee en die been amputeer.
Michael en sy broer Nicky (22) was op 28 Junie in ‘n ernstige motorbotsing tussen Vaalpark en Sasolburg betrokke. Albei is baie erg beseer en Nicky het die volgende oggend in die hospitaal aan sy beserings beswyk.
Michael was aanvanklik swaar gesedeer en op lewensondersteunende masjiene in die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein gehou terwyl dokters geveg het om sy linkerbeen, wat op verskeie plekke gebreek was, te red. Nadat die verdowing gelig en hy bygebring is, is hy op 21 Julie geopereer om plate in te sit en sy been te herbelyn.
Hy is vroeër die maand na ‘n rehabilitasiesentrum in Alberton geskuif, maar voortdurende infeksie in sy been en voet het sy herstel gekortwiek. Lewensgevaarlike nekrose het ingetree weens onvoldoende bloedtoevoer na sy been en voet, en daar is vroeër die week besluit om die been net bo die knie, wat vergruis was, af te sit. Hy is tans terug in die Polonomi-hospitaal waar die amputasie gedoen is.
“Die operasie was ‘n groot sukses wat deur ‘n uitstekende span dokters uitgevoer is. Ons glo Michael gaan nou vinniger herstel. Dit gaan emosioneel goed met hom en hy aanvaar ten volle dat die amputasie die beste uitweg was,” sê sy pa, mnr. Nicky Pretorius senior.
Die amputasiewond is nog nie permanent geheg nie sodat enige oorblywende infeksie steeds kan dreineer. Michael sal binnekort ‘n opvolgoperasie ondergaan om seker te maak alle infeksie is opgeklaar, waarna die wond behoorlik geheg sal word.
“Michael het nog baie pyn en word baie naar van al die antibiotika, maar dit gaan goed onder die omstandighede,” sê sy pa.
Die afgelope week was in meer as een opsig uiters emosioneel vir die Pretorius-gesin. Hulle moes nie net daarmee vrede maak dat Michael sy been na ‘n geveg van agt weke verloor het nie, maar dit sou Dinsdag, 22 Augustus, ook wyle Nicky se 23ste verjaardag wees.
Familielede het die aand kerse gaan aansteek langs die boom by die afrit tussen Vaalpark en Sasolburg waar die ongeluk twee maande terug plaasgevind het.

Michael het op 1 September sy eerste treë met behulp van ‘n loopraam gegee na die amputasie van sy linkerbeen.
Michael Pretorius na die amputasie van sy linkerbeen. Die amputasiewond was hier nog nie finaal toegewerk nie sodat alle infeksie eers kon dreineer.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button