Local newsNewsNews

Goose is Top Gun by hierdie hospitaal

Ontmoet Goose, die derde van die Top Gun bende by die hospitaal.

VANDERBIJLPARK. – Hy kyk nuuskierig vir ons. Sy groot oë is pragtig geel. Hy laat geduldig toe dat een van die personeellede hom optel.

Kry lekker as sy kop gekrap word. Sy naam is Goose en hy is ‘n gevlekte ooruil. Hy is tans in die Driehoek Dierehospitaal onder die sorg van dr. Kobus Kok.

Nicky van Chilli Picnic Photography het sowat twee weke gelede die uil in haar tuin gevang nadat hy vir twee dae net op een struik bly sit het.

Sy het besef die uiltjie is siek en net gevoel sy moes iets doen. “Dit was verbasend maklik om hom te vang. Hy was toe al so uitgeteer en kon nie eens meer sy oë oopmaak nie,” het Nicky vertel.

Gelukkig is dr. Kok van dié dierehospitaal ‘n groot liefhebber van roofvoëls met ‘n baie sagte plek vir uile in sy hart. Hy het dadelik die uil in die hospitaal opgeneem en daar is met behandeling begin.

“Hierdie is die derde gevlekte ooruil wat ons vir dieselfde probleem behandel,” sê Kobus. Die uile in die dorpsgebied eet duiwe en dan is hul vatbaar vir ‘n parasiet, trichomoniasis.

Dis ‘n siekte endemies aan duiwe en word dan aan die uile oorgedra. Dit veroorsaak verskriklike sere in die uile se bekke wat maak dat hul nie kan eet nie.

Kobus sê Goose was in ‘n baie slegte kondisie, maar met Vaalweekblad se besoek 30 Augustus kon die uil darem weer self eet en lyk die sere aan die binnekant al baie beter.

Goose moet nog ‘n operasie ondergaan waar die laaste letsels uitgesny kan word en dan is dit sowat twee weke se herstelproses alvorens Goose weer vrygelaat kan word.

Hulle probeer om die uile in die veld, soos byvoorbeeld EcoPark los te laat. “Ongelukkig moet ons die uile fisies hanteer terwyl hul hier is.

“Dis vir ons ‘n groot voorreg. Ek dink hulle voel aan ons gaan hul nie seermaak nie, maar verloor ook hul vrees vir die mens.”

Kobus, wat die uile gratis behandel, sê hy vernoem hulle na die vlieëniers van die rolprent Top Gun.

So het Maverick en Iceman al hul dae in die hospitaal gehad en is later weer vrygelaat. Nou is Goose goed op pad om te herstel.

Alhoewel daar baie bygelowe rondom uile bestaan en mense die neiging het om hulle te wil doodmaak, is uile baie goed vir die omgewing, veral met betrekking tot die beheer van muise en rotte.

Gevlekte ooruile weeg maar op hul gesondste 700 g en sal nie mense, honde of katte aanval nie.

Kobus vra ook dat mense versigtig moet wees met die uitsit van rottegif omdat dit ook die uile vergiftig, sou hulle ‘n rot of muis eet wat vergiftig is.

“Daar is ‘n produk van Bayer op die mark Racumin wat so geformuleer is dat die sekondêre gebruiker (dus die uil of kat) wat die dooie rot of muis eet, nie ook vergiftig sal word nie.

Indien mense dalk uile sien wat nie gesond lyk nie, veral die wat vir baie lank op een plek sit, kontak dr. Kok by (016) 932 2258. Hy sal verduidelik hoe die uil gevang en ingebring kan word.

Die hoofkarakter in die verhaal, Goose, het intussen ‘n dooie muis gekry om te eet. Hy geniet sy oggend versnapering en loer net so nou en dan in ons rigting. Rustig. Tevrede.

Hy word elke dag bietjie beter, ander uile is nie so gelukkig soos hy nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button