Is CW-areas die jagveld van ‘n reeksmoordenaar?
Gerugte dat daar 'n reeksmoordenaar op die jag is in die CW-areas met na bewering reeds 11 slagoffers, en een wat boonop die oë van sy slagoffers verwyder as bloedige trofeë, het paniek gesaai onder inwoners. Is dit die werk van 'n reeksmoordenaar? Polisie gee antwoorde.

Geensins! Aldus die SA Polisiediens in Sedibeng.
Dit ten spyte daarvan dat daar wel ses moorde – twee vroue inkluis – tans ondersoek word in die CW-areas wat tussen begin Julie en einde Augustus vanjaar gepleeg is.
Die ses moorde word nou deurlopend deur die SAPD ondersoek, sê kapt. Fikile Funda, Sedibeng SAPD woordvoerder. Kapt. Funda het beklemtoon dat die oë van hierdie ses moordslagoffers nie verwyder is nie.
Die polisieverklaring is die week voorsien na intensiewe navraag na beriggewing deur Retha Fitchat in Vaalweekblad verlede week – en wie onthul het dat twee vrouens reeds in CW-areas onlangs vermoor is.
Paniek oor ‘n moontlike reeksmoordenaar wat reeds 11 slagoffers op sy kerfstok sou gehad het, het sosiale media laat wemel van gerugte en paniek gesaai in die CW gemeenskappe.
So intens was die paniek op sosiale media dat raadslid Gerda Senekal (VF Plus) – wie se kantore in Faraday-boulevard binne enige moontlike reeksmoordenaar se jagveld sou val – nou eis dat die SAPD so vinnig moontlik die gemenskap oor die aangeleentheid
moet inlig.
“Die gemeenskap lewe tans in vrees en ons vereis dat die SAPD so spoedig moontlik die publiek en media in hul vertroue neem om die gemeenskap akkuraat in te lig,” het Senekal die week aan Vaalweekblad gesê.
Kapt. Funda het wel sekere inligting oor die ses bekende slagoffers aan Vaalweekblad bevestig. Tot op hede sluit die ses slagoffers twee blanke vrouens, een blanke man en drie swart mans in.
Vyf lyke is in die CW-areas binne ‘n radius van 2 km van mekaar ontdek tussen begin Julie en einde Augustus, terwyl een vrou in die hospitaal beswyk het nadat sy in dieselfde area aangeval is.
Vyf van die vermoordes is tussen 22:00 en die vroeë oggendure aangeval.
