Local newsNews

Familie en vriende groet geliefde apteker

Een van wyle mnr. Rautenbach se jarelange kliënte bestempel hom as 'n ware "gentleman" wat sy lewe lank daarop gefokus het om mense se lewensgehalte te verbeter.

 

VEREENIGING. – ‘n Bekende en geliefde apteker van die stad, mnr. Eric Rautenbach (73), is op 24 Augustus na ‘n lang stryd teen kanker oorlede. Mnr. Rautenbach het dekades lank diep spore in die aptekersbedryf in die Vaaldriehoek getrap.
Hy is in Vereeniging gebore en het op sy ouers se familieplaas in die Grasmere-omgewing grootgeword. Hy het aan die Hoërskool Vereeniging gematrikuleer voordat hy sy weermagjaar in Namibië gedoen het, waarna hy in die aptekerswese aan die destydse Potchefstroomse Universiteit vir CHO (nou Noordwes-Universiteit) studeer het. Hy is in 1974 met sy vrou van die afgelope 49 jaar, Elmi, getroud.

“Eric was ‘n besondere omgeemens; lief vir die lewe, jag en gholf. Sy vriende sal hom onthou vir die besondere wyse waarop hy staaltjies kon vertel,” sê Elmi.
“Hy was vir jare ‘n renperdeienaar en -teler en was baie lief vir sy perde, maar eintlik vir diere in die algemeen. Hy was ‘n kranige gholfspeler by Maccauvlei en later ook lid van die Riverside-rolbalklub. In sy jonger dae was hy ook baie lief vir hengel en jag. Hy het besoeke aan wildreservate baie geniet, en die Kruger Nasionale Park was sy groot liefde.”
Eric en sy susters, Carine en Sonja, met wie hy albei ‘n baie hegte verhouding gehad het, het juis in Maart vanjaar ‘n nostalgiese reis na Kwa Maritanie in die Pilanesberg onderneem om vir die laaste keer in die natuur bymekaar te wees. “Ons het toe al geweet die kanker gaan sy lewe neem,” sê sy suster Carine.

Eric en Elmi se seuns, Derick en Naco, skoondogters Alida, Tonel en kleinkinders sê hulle gaan hul pa en oupa altyd onthou vir sy stories en staaltjies en sy besonder liefdevolle geaardheid.
Wyle mnr. Rautenbach is Sondag, 27 Augustus, tydens ‘n spesiale diens in hul kerk, die NG Gemeente Suikerbos, deur hul predikant en jarelange kerkvriende gegroet.

“Daar is soveel mense wat ons graag wil bedank vir hul vriendskap en ondersteuning deur die jare… die kollegas by Mega Apteek vir die jare se saamwerk, Eric se Thirsty Eight-gholfvriende, sy ou skoolmaats Manie, Piet en Bushy, en die Kosmos-versorgingsoord in Sonlandpark. Hoe sê mens genoeg dankie aan Estelle, Susan, Darrell, Vené en al die ondersteunende personeel wat hom met soveel liefde versorg het,” sê Elmi.
Een van wyle mnr. Rautenbach se jarelange kliënte bestempel hom as ‘n ware “gentleman” wat sy lewe lank daarop gefokus het om mense se lewensgehalte te verbeter.

Wyle mnr. Eric Rautenbach.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button