KYK: Marathonatleet deur gewapende lyfwag vergesel
'n Video van 'n swaar gewapende manlike lywag wat 'n vroulike marathonatleet tydens 'n marathon in Vanderbijlpark vergesel het die internet aan die gons.
VANDERBIJLPARK. – Op die video kan mens sien hoe die wag met wat soos ‘n geweer lyk agter ‘n vroulike atleet aan hardloop asof hy haar beskerm.
Mens hoor dan ‘n toeskouer roep: “Gunman, we see you!”
Die video is blykbaar Sondag (3 September 2023) tydens die Vaal River City Marathon by die Isak Steyl-stadion in Vanderbijlpark geneem.
Dit lyk of die atleet die kleure van die Fat Cats-atletiekklub dra.
Dit blyk op die oog af of die atleet en haar helper ASA se reëls oor hulp aan atlete (“seconding”) oortree.
Dit is ook onbekend of dit ‘n geregistreerde lyfwag is.
Vaalweekblad verstaan die atleet is van Atletiek Gauteng-Sentraal en dat die voorval deur die atletiekliggaam ondersoek word.
Blykbaar het die atleet nie vooraf toestemming by die organiseerders gevra nie.
Sy is in ‘n stadium ook deur voertuie vergesel.
*Vaalweekblad probeer meer oor die voorval uitvind en sal later meer breedvoerig verslag lewer indien ons meer inligting het.
