Local newsNews

Laaste afskeid vir Renier in Vanderbijlpark na fratsongeluk op plaas

Toegewyde pa en boer sterf na tragiese voorval

 

VANDERBIJLPARK. – Die familie en groot vriendekring van Renier Pieterse (35) het Vrydag, 1 September, hul laaste eer bewys aan dié oud-Vanderbijlparker, wat deur baie as ‘n model-pa, ‘n hartsvriend en boer in murg en been bestempel word.
Renier het Donderdag, 24 Augustus, in ‘n fratsvoorval op sy plaas tussen Fochville en Potchefstroom gesterf, kort nadat hy tydens die verskuiwing van wildsbokke deur ‘n njalabul se horing deurboor is. Hy is in ‘n beseerde toestand na Potchefstroom gehaas vir mediese hulp. Paramedici het hulle op pad daarheen ontmoet en Renier dadelik begin behandel maar kon hom ongelukkig nie deurhaal nie.

Renier het in Vanderbijlpark grootgeword en skoolgegaan, waarna hy sowat 15 jaar by ‘n onderneming in die dorp gewerk het wat vragmotoronderdele verskaf.

Renier en sy vrou, Marieke, het mekaar 17 jaar gelede in hul matriekjaar in Vanderbijlpark ontmoet en is 12 jaar terug getroud. Hulle het twee seuntjies, Luhan (8) en Dian (6).
Renier se lewenslange droom om voltyds met sy gesin op die plaas te gaan woon, is vier maande terug bewaarheid. Hoewel hy steeds verbonde was aan FJR Brake & Trailer Parts in Potchefstroom, het hy die afgelope maande meer tyd gekry om aandag aan sy gemengde boerdery op die plaas te gee. Hy was die middag juis besig om bokke te vervoer toe die tragedie plaasvind.

“Hy was ‘n spontane soort mens wat almal altyd laat lag het en ‘n positiewe invloed gehad het op die lewe van elke mens wat hy ontmoet het. Mens het hom nooit sonder ‘n glimlag gesien nie. Hy was ‘n ongelooflike staatmaker, grapmaker, sy gesin en familie se steunpilaar en ‘n wonderlike pa en man,” sê Marieke, wat tot aan die einde langs haar beseerde man was.
“Ons kan nog nie ons lewe sonder hom indink nie. Dit voel nog so onwerklik. Ons kan nie glo hy is so gou van ons weggeneem nie. Sy heengaan laat ‘n groot leemte in ons gesin en familie,” het sy verlede week aan Vaalweekblad gesê.

Renier se gedenkdiens is Vrydag by die NG Gemeente Vaalrivier in Vanderbijlpark gehou, waarna hy in die Nanescol Private Begraafplaas ter ruste gelê is. Sy familie en vriende het dié geliefde man se lewe daarna tydens ‘n byeenkoms in Louisrus, Vanderbijlpark gevier. Teenwoordiges het kakie-klere aangetrek vir die finale afskeid uit erkenning aan Renier se liefde vir boer en die grond.
Hy sou op 26 September sy 36ste verjaardag vier.

Back to top button