Local newsNewsNews

‘n Veilige hawe vir die kleinspan

'n Besonderse dagsorgsentrum vir die spesiale kinders in die hartjie van CW6.

VANDERBIJLPARK. – ‘n Besoek aan die Flinke Dinkers Dagsorg is ‘n besonderse ervaring. Hier word dinge anders gedoen.

Die skooltjie, amptelik geregistreer by die Departement van Basiese Onderwys en die Departement van Gesondheid, het net ses kinders. Die oudste is 11 en die jongstes amper twee.

Anika en Mia speel met klei. Foto: Gerda Bruinette

Die dagsorgsentrum is ‘n droom van die eienaars Endri en Johan Coertse wat amper oornag werklikheid geword het.

In die hartjie van die CW-areas is armoede algemeen. Kinders se ouers werk lang skofte. Daar is nie altyd die nodige tyd om genoegsame aandag aan die kinders te gee nie.

Endri, wat nog altyd ‘n hart en ‘n oop hand vir haar medemens gehad het, het besef hier is ‘n behoefte. Dis toe wat hul die nodige dinge in plek gekry het om met Flinke Dinkers te begin.

“Ons hou die sentrum klein want ons wil soveel as moontlik individuele aandag aan elke kind gee,” verduidelik Endri. Sy is almal se ouma en die een wat seker maak die kinders eet elke dag genoeg en lekker.

“Ons is die tamatiesous-skool,” lag sy lekker. “Die kinders is omtrent almal gek na tamatiesous.”

Dylan Coertze is amper vier en hy het lekker die klei met die skêr geknip.

In die klaskamer met die vrolike kunswerke van die kinders teen die mure saam met foto’s van hul aktiwiteite is alles kleurvol en kindervriendelik. In die middel van die vertrek is daar twee miniatuur tafeltjies met stoeltjies waar die skooltjie se leerders lustig sit en speel met klei.

Mia (11) is die oudste. Sy is met outisme geklassifiseer en alhoewel sy die langste van die maats is, is haar breinontwikkeling op die stadium die van ‘n 4/5-jarige.

Elkeen van die maatjies het hul eie storie. Party se huislike omgewing is bietjie beter as ander, maar hier word geen onderskeid getref nie. Hier word ‘n punt daarvan gemaak om elkeen spesiaal te laat voel.

Troy Varga kon nie wag om sy kleifiguurtjie te wys nie. Die kleinman is Engelssprekend maar verstaan Afrikaans. Hy is baie lief vir tamatiesous. Foto:’s Gerda Bruinette

“Ons wil ons kinders weerbaar maak. Hulle moet wanneer hul hier uitstap om die groot skool te betree weet wie hul is. Dat hul kosbaar is. Dat hul saak maak en hulle moet weet hoe om boelies te hanteer,” vertel Endri.

Aan die stuur van sake in die klaskamer is ‘n gekwalifiseerde onderwyseres, Lee-Ann van der Westhuizen. Sy is ‘n gebore onderwyseres wat instinktief weet hoe om met elke kind na sy of haar behoeftes te werk.

Na middagete begin die ogies toeval. Dis duidelik tyd vir hul middagslapie. Nog ‘n kamer in die huis is omskep in die Flinkies se ruskamer. Hier is daar ‘n sagte tapyt, spesiale dik matrasse en kussings waar die jongspan bietjie kan ontspan voordat hul weer later speel en leer.

‘n Besondere foto van Larah Tutubala geneem deur haar maatjie Mia Coetzee.

Die Flinkies volg die departement se CAPS kurrikulum saam met die ELDA kurrikulum. Speel en leer gaan hand aan hand, met die grootste klem om dit te geniet.

Die belangrikste is dat die kinders gelukkig en tevrede is. Selfs klein Mia het goed aangepas en die ander maatjies verstaan dat sy nie altyd alles soos hulle doen nie.

Die skoolfonds word so laag as moontlik gehou en die Coertzes stoot enige ekstra R5 in die dagsorgsentrum in. Enige iets vir die kinders.

Die jongspan se hoogtepunt elke week is Vrydaemiddae wanneer Johan vroeër van die werk af kom. Dan gaan kuier hulle vir hom in die sitkamer waar Oupa Johan vir hul stories vertel.

Dan is daar natuurlik ook hul rit vroegoggende as Endri van hulle by hul huise gaan oplaai. Dis nou al ‘n tradisie dat Leonard Cohen se Halleluja in die motor gespeel word, sodat die kleintjies lustig saam kan sing.

‘n Dagsorgsentrum? Meer soos ‘n uitgebreide familie met Endri wat soos ‘n moederhen om haar kuikens kloek om seker te maak hulle vlerke kry kans om te groei voordat hul die harde wêreld moet aandurf.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button