Local newsNewsNews

Gebore aktrise geniet elke oomblik

Een van die HS Transvalia se leerlinge het die afgelope jaar haar buiging in twee Afrikaanse films gemaak. Lees meer...

VANDERBIJLPARK. – Nadia Kühn (16) het verlede jaar met groot opgewondenheid gehoor dat sy gekies is as een van die Speel Toneel finaliste. Min het sy geweet hoeveel avonture en geleenthede wag op haar.

Dis ‘n jaar sedert ons laaste onderhoud en waar sy September 2022 nog net gedroom het om in ‘n fliek te speel, het sy nou al twee films, en rolle as ‘n ekstra in TV-reekse, agter die rug.

Nadia saam met Erik Holm op die stel van Binnelanders. Foto: Verskaf

As deel van Speel Toneel het sy maandeliks saam met ander gekose voornemende akteurs opleiding by Photo Factory in Boksburg ontvang. Hier was sy deel van die groep wat deur Vilje Maritz gementor is.

“Ek het baie vriende gemaak en is nog in kontak met die meeste wat saam met my die kursus gedoen het. Die jongste meisie is maar 8 jaar oud en dan was daar die “ouma” van die groep. Tannie Eleonor wat al in haar 70s is.

“Sy het my baie geïnspireer deur te wys dat jy nooit te oud is om jou drome na te jaag nie,” sê Nadia.

As deel van die Speel Toneel opleiding was Nadia ook deel van ‘n film, Die Hele Kaboedel geskryf deur Karlé Briedenhann. Sy vertel dat hul van vroeg tot laat aan die film geskiet het, maar dat elke sekonde die moeite werd was.

Die film word eersdaags op VIA uitgesaai. Naas die fliek was Nadia ook super opgewonde toe sy ‘n geleentheid kry om ‘n ekstra op Binnelanders te speel.

Daarvoor is sy 10 Augustus Randburg toe waar die gewilde sepie by Stark Studio opgeneem word.

Sy vertel: “Dit was baie anders as om ‘n fliek te doen of om op ‘n verhoog te speel. ‘n Mens moet baie mooier luister van wat om wanneer te doen aangesien hulle ‘akteur taal’ praat.”

Die episodes waarin Nadia verskyn behoort teen Desember uitgesaai te word. Dit was juis by die Binnelanders opname waar sy genader is om in die fliek, Mathilda en Mathys te speel.

‘n Geleentheid wat sy met albei hande aangegryp het. “Dit was baie lekker gewees om deel te wees van ‘n klomp gesoute akteurs soos Elzabé Zietsman, Adrian Steyn (Ryno van Getroud met Rugby) en Kevin Smith (Glen in Skemerdans).”

Die fliek sal later op Showmax uitgesaai word. Nadia het hierdie jaar ook tyd gemaak om deel van Hoërskool Transvalia se Tiener Toneelgroep te wees.

Sy beskou hul drama, Mintie as een van haar hoogtepunte vir 2023. “Ons het ‘n brons toekenning verower met die toneelstuk en ek het ook ‘n silwer gekry vir my rol,” glimlag sy.

Sy sien uit na verdere geleenthede om in advertensies en TV-reekse te speel. “Ek geniet elke oomblik daarvan, maar sou dit nie sonder die hulp en ondersteuning van my vriende en familie kon doen nie.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button