Moorde in CW-gebied: Patrick se gesin begrawe hom naby moeder se graf
In hierdie stadium is daar nog geen bewyse dat die aanrandings en moorde met mekaar verband hou nie.
Gerugte dat ‘n reeksmoordenaar in Vanderbijlpark se “Central West” (CW)-gebiede bedrywig is, veroorsaak steeds vrees by inwoners nadat minstens vyf moorde (en ‘n sesde naby Bophelong aangrensend aan die CW-gebied) sedert einde Julie hier plaasgevind het. Minstens ses mense is ook ernstig in die gebied aangerand, van wie sommige in die hospitaal behandel is. In hierdie stadium is daar egter nog geen bewyse dat die aanrandings en moorde met mekaar verband hou of deur dieselfde mens of groep aanvallers uitgevoer is nie. Lees die berigte hier onder wat die afgelope weke in Vaalweekblad verskyn het:

Die berig hier onder het in Vaalweekblad van 25 Augustus 2023 verskyn:
Inwoners op hol oor beweerde ‘reeksmoordenaar’
VANDERBIJLPARK. – Gerugte dat ‘n reeksmoordenaar in die dorp se CW-woongebiede aktief is, stuur die afgelope weke skokgolwe deur die plaaslike gemeenskap.
Volgens gerugte is ses mense reeds sedert einde Julie op verskillende plekke in ‘n 2 km-radius van mekaar in die CW-gebiede vermoor of erg aangerand en beroof. Dit blyk dat van die moorde dwelmverwant kan wees, hoewel algemene voetgangers blykbaar ook voor die voet aangerand en beroof word. Inwoners van die gebied wat versoek het om anoniem te bly, sê hulle is nou te bang om op straat te wees. “Die mense van ons omgewing is nie ryk nie. Nie almal het voertuie nie en baie van ons moet loop waar ons wil wees,” sê ‘n middeljarige vrou van Kiplingstraat, CW6.
Die skrikbewind het op 25 Julie met die moord op mev. Beaula Ellis begin, wie se liggaam die volgende oggend in Curie-boulevard in ‘n sloot waarin veselkabels gelê gaan word, gevind is. Sy was te voet na haar woonstel in NW7 (naby die dorp se swaar nywerheidsgebied) op pad nadat sy karwagdienste by ‘n aandbyeenkoms van die Hoërskool Transvalia gelewer het.
Enkele dae later is ‘n tweede moord in die omgewing aangemeld. Die slagoffer, ‘n jong wit man, is omstreeks 04:00 die oggend van 30 Julie dood op die sypaadjie op die hoek van Einstein- en Beaconstraat aangetref. Hy het hoofbeserings en opvallende wonde aan sy gesig, oë en mond gehad. Hy is eers Sondag deur sy familie in die plaaslike lykshuis opgespoor en uitgeken, maar sy naam is nog nie amptelik bekendgemaak nie. Kenmerkende snye is glo op die voorkoppe van sommige van die slagoffers gemaak. Van die vroulike slagoffers is ook seksueel aangerand.
Intussen is twee swart vroue van die gebied wat as “Porra Town” of “Little Portugal” bekend staan, glo in afsonderlike voorvalle op dieselfde manier vermoor. ‘n Wit vrou se erg vernielde lyk is glo ook in die omgewing van ‘n bekende kuierplek in Mumfordstraat gevind en ‘n wit man is met bloeding op die brein in die hospitaal opgeneem nadat hy in ‘n afsonderlike voorval in die omgewing aangerand is.
Twee inwoners het Vaalweekblad ingelig dat hulle ook in afsonderlike voorvalle deur ‘n man met ‘n balaklawa oorval en beroof is terwyl hulle te voet van hul werk af op pad huis toe was. Omdat dit donker was en hulle nie sy gesig kon sien nie, is hulle onseker van die aanvaller se ras, maar hulle vermoed dat dit ‘n wit man is.
In die mees onlangse voorval is ‘n jong vrou, Skye Fagyas, so erg in die omgewing van die Siësta-versorgingsoord in Pasteur-boulevard aangerand dat sy ‘n paar dae later in die Sebokeng-hospitaal beswyk het.
Volgens inligting wat Vaalweekblad bekom het, het sy Woensdagaand, 9 Augustus vanaf haar huis in Jan Cilliersstraat, CW6, geloop om geld vir kos by ‘n OTM te gaan trek. Sy is in Pasteur-boulevard, digby Herfsoord en die Siësta-versorgingsoord, oorval en aangerand. ‘n Inwoner van die gebied het in die vroeë oggendure Skye se kreungeluide gehoor, ondersoek ingestel en op haar afgekom waar sy erg beseer op die sypaadjie gelê het. Sy is in die Sebokeng-hospitaal opgeneem waar sy ‘n paar dae later gesterf het. Vaalweekblad het intussen met haar ma kontak gemaak, wat bevestig het dat Skye aan haar beserings beswyk het. Haar moeder is absoluut gebroke oor haar dogter se dood.
* Vaalweekblad het inwoners se bewerings oor die vermeende reeksmoordenaar aan die Polisie se kommunikasie-afdeling voorgelê vir kommentaar, maar teen saktyd was daar nog geen amptelike terugvoer of bevestiging van die gerugte in die berig nie. (Sedibeng SAPD-woordvoerder, Kaptein Fikile Funda, het egter ‘n week nadat die berig verskyn het, aan Vaalweekblad-medewerker Craig Kotze bevestig dat die moorde wat gedurende Julie en Augustus in die CW-gebiede gepleeg is, intensief ondersoek word. Hy het daarop gewys dat gerugte dat van die slagoffers se oë verwyder is, ONWAAR is).
Die berig hier onder het in Vaalweekblad van 8 September 2023 verskyn:
Broer vind vermoorde Patrick in lykshuis
Waarskuwing: Die berig bevat grafiese beskrywings wat sensitiewe lesers kan ontstel.
VANDERBIJLPARK. – “Al het my broer die wêreld op so ‘n wrede manier verlaat, was sy siel op die regte plek. Ek glo en vertrou hy is nou by Jesus.”
So sê mnr. JJ Smit, broer van wyle Patrick Smit (30), wat op 30 Julie na ‘n bloedige aanranding op ‘n sypaadjie in Einsteinstraat, CW2, gesterf het. Sy dood het enkele dae na die moord op mev. Beaula Ellis, ‘n ma van ses, gevolg. Beaula het die aand van 25 Julie van haar werk af huis toe gestap toe sy aangeval is. Haar liggaam is die oggend van 26 Julie in ‘n sloot langs Curie-boulevard aangetref – sowat 2 km van waar Patrick gevind is.
Beaula en Patrick is twee van minstens vyf mense wat die afgelope weke grusaam in die CW-woongebiede vermoor is, terwyl nog minstens ses mense ernstig in aanrandings beseer is. Die gebeure saai paniek onder inwoners en gerugte loop steeds sterk dat ‘n reeksmoordenaar in die gebied bedrywig is.
“Ons is net dankbaar dat ons Patrick na ‘n weke lange soektog in die lykshuis kon opspoor en hom ‘n behoorlike begrafnis kon gee,” sê JJ.
“Patrick is op 28 Junie 1993 gebore en het in Vanderbijlpark grootgeword. Hy was ‘n oudleerling van Hoërskool Vanderbijlpark en het ten tyde van sy dood by vriende in die CW-gebied gewoon. Hy het ‘n lewe gemaak deur los werkies te doen. Hoewel ons mekaar nie gereeld gesien het nie, het ons dikwels kontak gehad en hy het gereeld van hom laat hoor,” sê JJ.
Toe daar einde Julie vyf dae verbygaan wat hy niks van Patrick gehoor het nie, het hy onraad vermoed.
“Ek het na hom begin soek en rondgevra maar weke het verbygegaan sonder dat ons hom kon vind. Ons het maar gehoop dat hy by ‘n vriend was of werk gekry het wat hom besig hou. Dit was reeds amper einde Augustus toe iemand ‘n berig vir ons stuur oor ‘n jongman wat op 30 Julie in CW2 vermoor is. Ek is dadelik polisiestasie toe waar die beamptes my na die plaaslike lykshuis verwys het om vas te stel of ‘n oorledene wat na drie weke nog nie uitgeken was nie, dalk my broer is. As dit nie hy was nie, moes ek terugkom en hom as vermis aanmeld.
“By die lykshuis het hulle my gehelp om na die liggaam te kyk. Ondanks afgryslike beserings kon ek sien dit was my liefste boetie. Sy neus en kakebeen was gebreek. Van sy tande was ook gebreek. Dit het gelyk of sy regteroog oopgebars het en daar was ‘n lang sny oor sy hele kop – van oor tot oor. Die res van sy gesig en bors was pimpel en pers. Geen mens verdien dit om so doodgeslaan te word nie,” sê JJ.
Verlede Saterdag, 2 September, kon Patrick se twee broers, vier susters en sy pa, mnr. Johan Smit, ‘n behoorlike groetdiens en begrafnis vir hom in Parys gee. Hy is digby sy ma, mev. Helen van der Merwe, begrawe, wat op 4 April vanjaar aan kanker gesterf het.
Die Smit-familie het intussen gehoor dat Patrick nog geleef het toe ‘n behulpsame man en vrou omstreeks 22:00 die aand van sy aanranding op hom afgekom en die polisie en ‘n ambulans ontbied het. Geen hulp het egter opgedaag nie. Hulle het ‘n polisievoertuig wat toevallig verbygery het, gestop en hulp gevra, maar die beampte het gesê hy was dringend op pad na ‘n huisbraak. Die helper het nog tot die oggend omstreeks 01:00 by Patrick gewaak totdat hy gesterf het. Sy liggaam is eers 04:00 die oggend verwyder en as ‘n onbekende persoon lykshuis toe geneem.
* In die mees onlangse geval is ‘n middeljarige manlike voetganger Vrydag, 25 Augustus, naby ‘n winkelsentrum in Stephensonstraat met ‘n swaar voorwerp oor sy kop geslaan en alles wat hy by hom gehad het, is afgeneem. Hy is in die hospitaal opgeneem en ‘n klag is by die polisie gelê, maar Vaalweekblad kon ongelukkig nog nie self met hom praat nie. Die polisie het intussen bevestig dat die vlaag moorde en aanrandings in die CW-gebiede intensief ondersoek word, maar daar is tans geen bevestiging dat die voorvalle met mekaar verband hou nie.






