Local newsNewsNews

‘n Kop vir sake en hart van goud

Maak nader kennis met GTCoC se Sakevrou van die jaar, Michelle du Toit

VEREENIGING. – Die GTCoC se sakevrou van die jaar, Michelle du Toit, is ‘n vrou van vele talente.

Nie net is sy mede-eienaar van TC Radio Communications nie, sy is ook die een wat al die tweerigtingradio’s se programmering doen en van installering kan jy haar nie veel vertel nie.

Sy het so half in die bedryf grootgeword. Haar ma het al die jare by die maatskappy gewerk, terwyl haar ma se verloofde by ‘n soortgelyke kommunikasiemaatskappy gewerk het.

Na matriek het Michelle deeltyds geswot en in 2010 het sy ook die radiokommunikasiewêreld betree. In 2017 het hulle die geleentheid gekry om die maatskappy te koop en sedert 2018 is hul by die nuwe perseel in Drie Riviere.

Kliëntediens is vir haar baie belangrik. “Ek maak seker dat ons ‘n pakket vir elke kliënt daarstel wat by hul spesifieke behoeftes pas. Ons gee persoonlike aandag en help met alles.

Sakevrou van die jaar, Michelle du Toit saam met een van haar gunsteling slange. Foto: Gerda Bruinette

“Omdat ons tweerigtingradio’s voorsien vir so baie plekke, is dit belangrik om verhoudings te bou en seker te maak alles is altyd in werkende orde.

“Mense se lewens is op die spel. Dink net wat sal gebeur as daar ‘n plaasaanval is en die tweerigtingradio werk nie,” verduidelik sy.

Alhoewel hul kliënte so ver as KwaZulu-Natal het, hou hul die personeelkorps klein. “Ons is hier meer soos ‘n familie as kollegas,” sê sy.

Sy en haar verloofde, Victor Bronkhorst het juis in die Covid-19 grendelstaat gesorg dat al hul werkers elke dag kos het om te eet.

Michelle het kleintyd op ‘n kleinhoewe buite Deneysville gebly en sy was in Laerskool Vryheidsmonument en die voormalige Hoërskool Vereeniging op skool. Sy het ‘n groot passie vir diere en is gereeld by diere reddingsaksies betrokke.

Alle diere, van honde tot slange. Slange ja, by hul kantore is daar nie net ‘n vistenk waar alle kleure visse rustig swem nie, daar is ook dosyne hokke met slange. In alle kleure, groottes en temperamente.

Elkeen het ‘n naam wat op die hok aangebring is. Daar is die wat onlangs gekry is, wat nog bietjie temperamenteel is en eers rustig gelos word om aan te pas tot by die wat al jare saam met haar kom.

“Ons maak eenmaal per week hokke skoon en dan spring almal in om te help. Ons ontvangsdame moet party dae help om ‘n slang vas te hou terwyl die hok skoongemaak word,” vertel Michelle.

Een ding is verseker, niemand gaan sommer by die kantoor inbreek nie. By die huis het sy ook nog slange, ‘n varswater kreef, visse, honde, voëls en ‘n spinnekop.

Haar verloofde deel gelukkig haar liefde vir diere en het opleiding in slanghantering.

Michelle hou ook baie van antieke goed en in die kantoor staan ‘n hout staanklok (grandfather’s klok) wat sy geërf het.

Wanneer daar kans is vir ‘n wegbreek, staan haar kop see toe. “Die see is die plek waar ek kan asemhaal en ek is baie lief vir diepsee visvang,” glimlag sy.

As gevolg van hul kliëntebasis wat so wyd versprei is, reis sy en Victor baie. Vir haar kliënte is sy veel meer as die een wat na hul radiokommunikasiebehoeftes omsien.

By die kantoor terg hulle haar, want sy is sommer almal se berader en sosiale werker ook. Dis Michelle, ‘n omgeemens met ‘n kop vir besigheid.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button