Kaartjies vir ‘Dinner for one’ vertoning te wen
As jy lief is vir teater vertonings moet jy die een nie mis nie, én boonop kan drie lesers dubblelkaartjies na die vertoing te wen. Lees hier!
Dinner for One én die satiriese plaaslike weergawe Sopper vir Een word op Sondag, 24 September vanjaar by die Etienne Rousseau-teater in Sasolburg op die planke gebring na ‘n reeks uitverkoope vertonings regoor Suid-Afrika, met Justin Strydom as James die Butler, en Elma Potgieter Miss Sophie.
Dinner for One (ook bekend as The 90th Birthday), wat op TV nou al ‘n Oujaarstradisie is, het in Duitsland kultusfliek-status gekry nadat dit in 1963 in Hamburg verfilm is.
Dié uiters snaakse roomtert-komedie speel af in ‘n eeue-oue Britse herehuis, waar die laaste oorblywende lid van die familie, Miss Sophie, haar 90ste verjaardag vier.
Die hele skets vind in die eetkamer plaas, met Miss Sophie aan die koppenent van die tafel, en daar is vir haar ‘gaste’ – wat almal al dood is – plekke gedek.
Die butler, James, moet vir die gaste ‘n viergang-maaltyd bedien – en daar is vir elke gang ‘n drankie! Aangesien nie een van die gaste behalwe Miss Sophie in ‘lewende lywe’ daar is nie, dring Miss Sophie daarop aan dat James elke gas se rol moet speel (en dus al sy drankies ‘namens’ hulle moet drink).
“Same procedure as every year, James.”
Hoe later, hoe kwater, en James raak al hoër in die takke … die spanning loop al hoe hoër elke keer as James nóg ‘n rondte om die tafel oorleef sonder om oor die “kop” van die tiervelmat te val.

As ‘n toegif voer Elma en Justin ná pouse Sopper vir Een ook op. Die verrassing is dat Sopper vir Een die spot dryf met Dinner for One. Elma speel dan die rol van die butler, en Justin dié van Miss Sophie.
Sopper vir Een is deur Frans Swart verwerk om dit Suid-Afrikaans te maak. “Die intrige is presies dieselfde – dis nog steeds ‘n verspotte jol!” sê Frans.
Maar ek het die tweede weergawe ‘versuidafrikaniseer’, en dit was baie groot pret!
Die gehoor gaan mal wees daaroor! Die klassieke weergawe is so bekend, en die gehoor weet presies wat om te verwag, maar daar gaan ‘n hele klomp verrassings in die tweede weergawe wees”.
* Besprekings kan aanlyn by www.ertickets.com gedoen word. Besoek ook gerus www.dinnerforone.co.za vir meer inigting. Die produksie is ook beskikbaar vir korporatiewe funksies of fondswerwingsaksies en word aangebied met die troste ondersteuning van die Etienne Rousseau-teater, Lefra Produksies, Ambassador Execudrive, Van Loveren Wyne, Hollywood Costumes, RSG, Lift, Britz Couriers and Removals en WS Pianos.
Besoek gerus www.dinnerforone.co.za vir meer inigting.

So kan jy kan staan om kaartjies na Dinner for one te wen
Drie lesers kan elkeen ‘n dubbelkaartjie wen na Dinner for One by die Etienne Rousseauteater op Sasolburg op Sondag, 24 September 2023 om 15:00.
Om deel te neem aan Vaalweekblad en Lefra se kompetisie, kan jy die volgende na 37338 SMS: WEN DINNER, VAAL, dan JOU NAAM EN VAN en dan JOU STAD OF DORP.
Dieselfde inligting kan ook per epos gestuur word aan wen@lefra.com met LEFRA & VAALWEEKBLAD DINNER KOMPETISIE as onderwerp.
Wenners sal telefonies gekontak word en die beslissing van die Redakteur is finaal.

