Koperdiewe danksy gemeenskap se hulp aangekeer
Vyf koperdiewe het hul moses teëgekom danksy die waaksaamheid van 'n lid van die gemeenskap.
RIVERSDALE. – Danksy die waaksaamheid van die gemeenskap van Riverdsdale kon vyf vermeende koperdiewe op Woensdag 6 September aangekeer keer word.
Ongeveer 150 meter se gesteelde elektrisitetiskabels is in die veragtes se besit gevind en die polisie het daarop beslag gelê.
Die inhegtenisname van die vyf verdagtes volg nadat ‘n inwoner, mnr. Johan Truernicht, onraad vermoed het en onmiddelik die vermeende koperdiewe se verdagte aktiwiteite op die nuutgestigte WhatsApp groep aangemeld het en vir Gerrit Viljoen, ‘n lid van Midvaal Plaaslike Munisipaliteit se burgemeesterskomitee, gekontak het.
Volgens Viljoen het die gemeenskap se vinnige reaksie ‘n deurslaggewende rol gespeel in die inhegtenisname van die verdagtes.
Hy vertel: “Met die aankoms van Afrigaurd-personeel op die toneel het hulle die gebied beveilig totdat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se infrastruktuureenheid oorgeneem en daarna die verdagtes in hegtenis geneem het.
Viljoen meen gemeenskapsbetrokkenheid speel ‘n belangrike rol in die handhawing van veiligheid en die beskerming van noodsaaklike infrastruktuur.
Die Midvaal Plaaslike Munsisipaliteit se uitvoerende burgemeester, rdh. Peter Teixeira, die speaker van die raad, rdl. Alan McLoughlin, en die burgemeesterskomittelid vir openbare veiligheid en paaie, rdl. Gerrit Viljoen, het Donderdag vir Trauernicht besoek om hul opregte dankbaarheid uit te spreek oor sy waaksaamheid en die bystand wat hy verleen het sodat die verdagtes in hegtenis geneem kan word.
Viljoen meen die voorval beklemtoon die voortdurende uitdaging wat die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit in die gesig staar, waar miljoene rande jaarliks bestee word weens kabeldiefstal en vandalisme van elektriese infrastruktuur.
“Hierdie hulpbronne kan andersins toegewys word om infrastruktuur te verbeter en dienslewering vir ons gemeenskap te verbeter. In net die afgelope twee weke is 12 elektriese pilaarkaste gevandaliseer en moet nou vervang word,” sê hy.
Viljoen moedig die gemeenskap aan om aktief aan misdaadvoorkomingspogings deel te neem.
Inwoners word versoek om enige verdagte aktiwiteit stiptelik aan te meld, dit te oorweeg om by hul plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) aan te sluit, betrokke te raak by plaaslike gemeenskaps WhatsApp-groepe en by te dra tot die beveiliging van die kritieke infrastruktuur wat deur belastingbetalers befonds word.
“Deur saam te werk kan ons ’n veiliger en meer welvarende Midvaal vir al sy inwoners skep,” sê Viljoen.
