Peuter speel weer na breinoperasie
Goeie nuus, Nolan (Vaalweekblad voorblad van 15 September) se breinoperasie het goed afgeloop. Nog gebede gevra. Lees meer...
VANDERBIJLPARK. – As daar nou een kleinman is wat hom nie laat afskrik deur hospitale, narkose, en ʼn groot pleister oor ʼn kopwond nie, dan is dit Nolan Marais (1½).
Nadat hy Vrydag, 8 September ʼn breinoperasie ondergaan het, is hy oor die naweek ontslaan en speel hy alweer rustig op die gras.
Die dapper kleinman is met erge hidrokefalie gediagnoseer, ‘n kondisie waar vog in sy brein versamel.
Tydens die operasie is ‘n nuwe paadjie en opening vir die vog in sy brein geskep.

Daar word gehoop dat die sist ook nou sal krimp soos die vog dreineer. Nolan se ma, Jessica sê die neurochirurg hoop dat die sist so opgelos sal word, maar hulle sal eers oor twee weke kan sien of dit gewerk het.
Andersins sal Nolan ʼn tweede breinoperasie moet ondergaan om die sist te verwyder.
Nolan is destyds met ‘n gesplete bolip gebore wat onder operasie reggemaak is. Daarna is sy vordering met ‘n arendsoog dopgehou aangesien sy brein al voor geboorte te klein gemeet het.
Hy was ook maar net ‘n paar maande oud toe ‘n sist wat drukking op die regterkant van sy serebellum plaas, waargeneem is.
Vir ‘n tyd lank het dit goed gegaan, maar op 19 maande kan hy steeds nie alleen staan nie en sukkel hy om te loop.
Na intensiewe toetse is daar bevind dat vog in sy brein versamel en dat die oorspronklike sist gegroei het en verdere drukking veroorsaak.
Nolan kan, ten spyte van sy gesondheidsprobleme, al meer as vyf kleure uitken, hy ken al sy liggaamsdele, kan plaasdiere en hul geluide identifiseer en boots die bewegings van sy gunstelingliedjies na.

Volgens Jessica kan hul alreeds vordering in klein dingetjies sien vandat die operasie plaasgevind het.
Nolan kan skielik mooi uit ʼn koppie drink, hy kan op sy knieë sit wat hy nooit kon doen nie, hy sê meer woordjies en kan nou tot by vier tel, terwyl hy voor die operasie nog net tot by drie getel het.
Die Marais-gesin is dankbaar vir almal se gebede en goeie wense.
Hulle glo en vertrou dat ʼn verdere operasie nie nodig sal wees nie en dat Nolan een van die dae met mag en mening sal kan loop.
