Local newsNews

Bekende fotograaf en sakeman word met liefde onthou

Louis Mac Phearson: 'n Man wat sy stokperdjies, sy besighede en sy werk met ewe veel passie geniet het

 

VANDERBIJLPARK. – Liefhebbers van natuurfoto’s het die afgelope jare groot waardering vir die uitsonderlike natuurfotografie van Louis Mac Phearson (69) ontwikkel, maar nou is sy kameras weggepak. Dié geliefde sakeman en fotograaf is Maandag, 28 Augustus, in die hospitaal oorlede na jarelange probleme met sy gesondheid.
Volgens Louis se seun, Ettienne, het hy in 2017 ‘n heupvervanging ondergaan, maar sy liggaam het dit verwerp. Ondanks ‘n opvolgoperasie het hy chroniese infeksies begin kry wat sy hele liggaam, insluitend sy hart en niere, begin aftakel het. Hy het uiteindelik weens algehele orgaanversaking beswyk.

Louis is in 1954 in Vanderbijlpark gebore maar het as kind saam met sy ouers na Villiers verhuis. Gedurende sy tienerjare het hulle na Vanderbijlpark teruggekeer, waar Louis aan die Hoërskool Vanderbijlpark skoolgegaan het.

“My pa was van jongs af mal oor motorfietse en was reeds as skoolseun bekend as die outjie met die vinnigste 50 CC-motorfietse. Hy het ook graag gehelp om ander ouens se bikes te tune,” sê Ettienne.
Na skool het Louis in ‘n elektriese rigting studeer en ‘n geruime tyd by Telkom se operasionele afdeling in die dorp gewerk. Met ‘n liefde vir vinnige motorfietse steeds in sy bloed, was hy later jare saam met Otto Oehm aan ‘n bekende motorfietsonderneming verbonde.

Intussen het hy ook ‘n passie vir wedrenfietsry ontwikkel – ‘n liefde wat hy ook by sy vrou Louise en Ettienne aangekweek het. Onder sy pa se leiding het Ettienne van sy juniordae af fietsgery en selfs een jaar die SA’s gewen. Louis en Louise het deur die jare saam-saam 10 Argusse met hul tandemfiets voltooi.

“My pa het alles wat hy gedoen het, met passie aangepak – of dit nou fietsry, duik, fotografie of rekenaars was. Hy het ‘n wye belangstelling in alles om hom gehad en kon daarin slaag om sy stokperdjies te omskep in winsgewende besighede,” sê Ettienne.
Louis het deur die jare onder andere ‘n fietswinkel in Drie Riviere bedryf, en ‘n fotografie-onderneming en ‘n rekenaarbesigheid in Vanderbijlpark.

“As Skotsman kon my pa baie kwaai en ernstig wees. Hy het my baie streng grootgemaak maar hy was ook ‘n liefdevolle terggees. Ons gesin sal hom onthou vir sy ongelooflike liefde vir die natuur, sy honde en natuurlik bo alles, vir my ma sowel as vir my, my vrou en ons dogtertjie, Klara. Hy was so lief vir alles en almal om hom. Hy het veral daarvan gehou om tyd saam met my ma en sy honde in hul ‘camper’ in die natuur deur te bring en het altyd met die mooiste foto’s van die spelende honde teruggekom.”

Ettienne beplan om sy pa se rekenaaronderneming, EMF Computers, nou alleen voort te sit. “Ek het nou die verantwoordelikheid om dit verder te laat groei en ‘n toekoms te bou ter ere van my pa,” sê hy.
‘n Aandoenlike private gedenkdiens waartydens Louis se lewe gevier is, is Woendag by Droomplaas buite Vanderbijlpark gehou.

Louis saam met sy seun, Ettienne.

Foto’s onder: Só sal Louis se familie en vriende hom onthou…

Wyle Louis Mac Phearson saam met die liefde van sy lewe, sy vrou Louise.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button