Ek sê maar net….
RUBRIEK. - Ag ja, en daar stap ek met 'n geskeurde romp in een van die winkels rond. Dit was 'n wille dag. Lees meer...
RUBBRIEK. – Hygend hert en genadendal. Het jy al ‘n dag beleef waar alles skeefloop? Ek het ‘n wildewragtig Woensdag gehad.
Sommer so uit die niet het alles skeefgetrek. Waar het dit begin? Wel, die opstaan en aan die gang kom vir die dag het sonder voorvalle verloop.
Ek het selfs onthou om vir my toebroodjies vir middagete te pak. Het wel tred met die tyd verloor en was net so effe aan die laat kant by die kantoor.
My eerste fout was om my toebroodjies oop te maak net toe ek my sit agter die rekenaar kry.
Wou net een driehoekie proe – ek sny altyd my toebroodjies in vier driehoeke, dan lyk dit meer. Helaas, toe ek besef hoeveel artikels wag om geskryf te word, toe is al vier driehoeke daarmee heen.
Ten tweede maak ek die fout om die moeilikste artikel vir laaste te los. Vatplek wou my brein net nie vatplek kry nie.
Eindelaas besluit ek om ‘n draai deur die dorp te gaan ry om te kyk of sien ek al êrens ‘n watertrok om af te neem.
Die groot droogte het toe nog nie toegesak nie, en Vanderbijlpark het nog water gehad.
Ek stop so op weg terug na die kantoor by een van die winkels. Op daardie stadium was ek al goed dors en ek dag so by myself dalk sal ‘n koeldrank werk.
Ek slenter die winkel binne. Kies koers in ‘n lang gang af. Vat ‘n slap regs op my weg na die yskaste. Stop eers om te kyk of daar nie ‘n bekostigbare lekkerny is wat ek later vir Ma kan vat nie.
Dis toe dat ‘n vrou my hier van ‘n kant af nader. “Jong, jou romp is agter oor jou panty geskeur.”
My brein gaan van intelligent na niks in minder as ‘n sekonde. Ek staar haar sprakeloos aan.
“Draai jou romp,” deel sy raad uit en ek sien sy kyk my met simpatie aan. My benewelde verstand kry uiteindelik die boodskap en ek pluk romp vinnig om sodat die kantsakke halfpad agter toe is.
Ek hoop my hemp is lank genoeg vir die skade. Toe nou nie. Die een dag wat ek nie ‘n ellelange top aan het nie.
Ek voel die skielike koeligheid op my bobeen, maar hou vir eers my oë op die vrou voor my. “Dankie Mevrou,” sê ek en probeer my beste glimlag vir haar gee. Asof ‘n geskeurde romp ‘n alledaagse ding is wat my glad nie omverwerp nie.
“Plesier” sê sy en gaan voort met haar inkopies. Daar staat ek toe agter in die winkel, met ‘n skeur in my romp wat bykans my hele bobeen ontbloot.
Wat maak ‘n mens? Wel, ek het met my beursie en selfoon in my linkerhand die skeur probeer bedek en so waardig moontlik by die winkel uitgeloop.
By myse Ford Mich gaan staan my hart amper. Waar is my motorsleutel? Linkerhand klem steeds my beursie en selfoon vas.
My regterhand vat-vat waar die sakke gewoonlik sit, maar daar is niks. Vir ‘n sieldodende oomblik dink ek ek het my sleutel in die winkel verloor en sal moet terug!
Gelukkig onthou ek dat die romp geheel skeef sit. Ek vat-vat so na agter en spoor die rompsak met my sleutel hier skuins agter my heupbeen op.
Klim verlig in die motor en begewe my huis toe. Soos ek in ons straat indraai, bid ek net buurman is nie buite in die tuin nie.
Hy is gewoonlik, maar my beskermengele weet seker hoeveel ek op een dag kan hanteer, want ek kry die hek oop en toe sonder dat iemand my gewaar.
Ma wil weet wat maak ek so vroeg by die huis? “My romp” verklaar ek en wys dramaties na waar die romp al langs die naat meegegee het.
Ook my eie skuld, ek haat klere koop en klou aan ‘n ding wat lekker dra totdat dit totaal en al deurgewas en gedra is.
Ma skud net haar kop en reken dis jammer my Pa leef nie meer nie. Ek weet sy bedoel hy sou die skeur kon regmaak, maar ek sien al in my verbeelding hoe lag Pa oor die petalje. Hy sou my nooit as te nimmer ophou terg het nie.
Ek pluk my driekwartbroek uit die kas en sluk vinnig ‘n glas koeldrank voordat ek weer kantoor toe haas.
Met die uitklimslag val my sleutel onder die sitplek in. Die wind waai my natuurlike krulle tot ‘n kraaines en wraggies sal my skoen se bandjie ook nog so in die loop lostrek.
Ag ja, wildewragtige dae moet ook tot ‘n einde kom. Ten minste het my romp nie die keer op my enkels beland soos verlede jaar in die Etienne Rousseau Teater se parkeerarea nie. Dink van nou af word alle rompe finaal uit my kas verban. Sela!
