Voorslag Voortrekker, ma en vrou
Helei Jooste is 'n offisier by Orion Kommando. 'n Voortrekker-ma vir die jongelinge en 'n staatmaker oral waar sy betrokkie is.
VANDERBIJLPARK – Die Voortrekkers se Orion Kommando is baie lief en dankbaar vir Helei Jooste.
Onlangs het sy maande se geduld en harde werk ingesit om seker te maak Emily Rencken en Mika du Preez is gereed vir die teoretiese eksamen om die hoogste toekenning vir Voortrekkers in Graad 12 te ontvang.
Hulle harde werk is beloon. Albei is nou Presidentverkenners. “Ons het vir amper ‘n jaar lank elke Saterdag hier om die tafel gesit en geskiedenis geleer. Natuurlik met genoeg eetgoed byderhand,” verduidelik sy.
“Ek was die graad 12 Voortrekkers se groepleier sedert hulle in graad vier was. Ons is soos ‘n familie. Ek is nou weer die Voortrekkerma van die graad drie en vier groep. Dis ‘n uitdaging met die kleingoed. Hulle is besig!” beduie sy.
Om ‘n Voortrekker te wees, loop in haar are. Sy het in Brits grootgeword en was op skool al deel van die Voortrekkers. Na skool het haar pad met die organisasie tydelik geskei.
Agt jaar gelede het die Orion Kommando haar genader om hul lief en leed te deel. Die res is geskiedenis.
Helei is ‘n besige by, naas die Voortrekkers, werk sy as assistent by die NWU, is betrokke by die Gereformeerde Kerk Vaalpark en is ma van drie dogters.
“My oudste is al ‘n juffrou in Witbank en die tweeling swot kommunikasiekunde hier by NWU.” Sy is duidelik trots op haar kroos, en haar man wat ‘n lektor is by die Skool vir IT by die universiteit.
Haar selfoon lui kort-kort. “Dis die kantoor,” sug sy. “Die dekaan ontvang vandag ‘n belangrike persoon.” Sy laat haar nie deur onderbrekings onderkry nie en ons kuier ‘n hond uit ‘n bos uit.
Helei se hele wese straal vriendelike gemoedelikheid. Sy lag maklik en lekker. ‘n Mens verstaan hoekom is die Voortrekkertjies so lief vir haar.
