VAALPARK – Die Hoërskool Vaalpark se o17-rugbyspan het vroeër vandeesmaand geskiedenis gemaak toe hy vir Glen Harvie met 22-19 in die eindstryd van die Noordvaal Virsekerbeker geklop het.
Dit is die eerste keer in die skool se geskiedenis dat hy die gesogte Noordvaaltitel kon verower.
Onder leiding van hul afrigters Rudi Kruger en Shane van Sittert het die span deur die seisoen gewys dat hulle oor die vermoë beskik om met die beste in hul afdeling mee te ding.

“Ons het nie net die skool nie, maar ook die Vaaldriehoek verteenwoordig. Ons is baie trots,” het Sittert aan Vaalweekblad gesê.

Volgens hom het die sege die seisoen op ʼn hoogtepunt vir ʼn besonderse groep spelers afgesluit.
Die oomblik sal vir lank deur die spelers en afrigters gekoester word en die skool se naam sal verewig die trofee pronk.
