VANDERBIJLPARK – Dit word nie verniet die Valke Merlin-liga genoem nie. Want in ‘n oogwink word ‘n trofee voor jou oë weggetoor.
Dit is wat verlede Donderdagaand in die eindstryd van hierdie liga op die tuisveld van die Noordwes-Universiteit se Vanderbijlparkkampus gebeur het.
Pandemonium het uitgebars nadat die studente se eerste rugbyspan daarin geslaag het om die brawe Meyerton Knights met 53-37 te klop. Maar moenie dat die eindtelling jou mislei nie. Maklik was dit beslis nie.
NWU Vaal het in die doodsnikke van die kragmeting gaan druk om die telling met 34-34 gelykop te maak. Die besoekers was rustyd 21-20 voor, maar het in ekstra speeltyd, 10 minute aan elke kant, bietjie uit die bus geval.












Dewald Pieters se troepe met JP Storm en Delano Maritz aan die spits het gate in die Knights se verdediging gepons en uiteindelik gesorg dat die tuisspan die soet smaak van kampioenskapglorie proe. Pieters het na die kragmeting sy spelers geloof vir die groot karaktertoets wat hulle geslaag het.
Op die keper beskou was dit ‘n rillerstryd wat ‘n vertoonvenster vir klubrugby en rugby in die Vaaldriehoek was.
Om onder spreiligte voor honderde mense onder druk te presteer is nie maklik nie en albei spanne verdien ‘n pluimpie vir die skouspel. Hoewel die gemoedere een keer opgevlam het, was die dissipline van beide spanne gedurende die amptelike speeltyd voortreflik.
