‘n Lentedag verrassing
Dis die klein dingetjies in die lewe wat 'n verskil maak, vra maar vir die Flinkies wat onverwags op Lentedag verras is. Lees meer....
VANDERBIJLPARK. Die leerlinge van die Flinke Dinkers Dagsorgsentrum se Lentedag, 1 September het ‘n onverwagse wending geneem.
Die jongelinge was nog besig met hul oggend aktiwiteite om vlinders in te kleur, toe hul roetine met ‘n klop aan die deur versteur is.
Vaalweekblad het namens Gerda Bruinette (sr.), nie om verwar te word met die joernalis nie, ses Franzél Omgee-beertjies vir die jongspan gebring.

Die beertjies word deur Tannie Gerda met die hand gebrei ter gedagtenis aan Franzél van den Bergh wat in 2014 oorlede is. Sy was maar 17 jaar oud.
Die beertjies wat al op ver paaie deur die jare versprei is, word met groot liefde gebrei met skenkings van onder andere Franzél se ouers, Emile en Pikkie en oud-Valie Johan van der Merwe.

Beertjies het al hul weg na verskeie siek kinders, pasgebore babas en nuwe mammas gevind.
Die Flinkies, soos die kleinspan van die Flinke Dinkers sentrum bekend staan, se gesiggies het gestraal toe hul elkeen ‘n beertjie kon kies.

Klein Anika wou net seker maak dat sy haar beertjie, wat sy Anika Jr. gedoop het, saam kon huis toe neem.
Die ander het gou agtergekom dat hul die bere se serpe kon losmaak en weer vasmaak, terwyl die jongste Flinkie summier haarself op haar beertjie opgekrul het vir ‘n vinnige slapie.
Daar is wel deur die loop van die oggend bere geruil, maar uiteindelik is elkeen darem met ‘n beertjie onder die arm huis toe.

Die dagsorgsentrum het later op hul Facebookblad gesê: “Groot bederf hier gewees toe tannie Gerda Bruinette van Vaalweekblad vir elke klein Flinkie ‘n Franzél Care Bear gebring het.
“Baie dankie vir ons een aanneem-ouma Gerda Bruinette (sr.) vir hierdie absoluut pragtige gebreide bere.”
