Valies en OosRanders span saam vir fees
Wanneer Valies en Oosranders saamspan, gebeur daar groot dinge. Lees meer...
VANDERBIJLPARK. – Die Glimlagfees, wat geld vir die Smile Foundation insamel, trek mense van heinde en ver saam vir ‘n pretdag vir die hele gesin.
Die Smile Foundation het al meer as 5 000 kinders met gesigprobleme gehelp en die Glimlagfees dra al sedert 2019 by tot hul fondse.

Die hooforganiseerder van die dag is Danie van Deventer van Vanderbijlpark. As eienaar van Elite Tente is hy en sy span altyd doenig by groot geleenthede.
Voor die tyd slaan hul tente op en na die tyd is dit operasie afslaan en skoonmaak.
“Ek het altyd die storie so bekyk en gedink, ek wil vir ‘n verandering deel van die fees ook wees. Dit het lekker gelyk,” vertel Danie.
Nadat sy paaie met die Smile Foundation gekruis het, het sy gedagte ‘n werklikheid geword. Hy het net geweet dis iets wat gedoen moet word.
Die eerste fees het hy saam met nog ‘n Valie, Ettienne Stolz beplan en uitgevoer in 2019. Daarna is hul planne deur die Covidpandemie gekortwiek.
Verlede jaar het hul groot gegaan en is die fees by die Benoni Northerns Sportklub aangebied. Hierdie jaar maak hul weer so en is hard aan die werk om seker te maak alles verloop seepglad en vol vreugde op 7 Oktober.
Danie is ‘n bekende in die Vaaldriehoek. Nie net is hy deel van die GTCoC bestuur nie, hy het ook in Vanderbijlpark grootgeword.
“Ek was in die voormalige Laerskool Historia en het my skoolloopbaan by HS Driehoek afgesluit,” vertel hy.
Na die Driehoek brugramp het hy die tente verskaf waarin die leerders vir ‘n paar maande moes skoolgaan.
Alhoewel die Glimlagfees aan die Oos-Rand aangebied word, is daar verskeie besighede uit die Vaaldriehoek by die fees betrokke. Selfs die Springkasteelpark vir die kleinspan kom uit plaaslike geledere.
“Ons hou die fees in Benoni, want dis net meer sentraal geleë vir almal. Ons wil soveel as moontlik mense daar hê en sodoende kan die Johannesburgers en Pretorianers dit ook bywoon, en dis mos maar net ‘n klipgooi van die Vaal tot in Benoni,” vertel hy.
Die 150 stalletjies is met die hand uitgesoek en die kosstalletjies sal elke honger maag en smaak stil. Daar is alles van Meksikaanse kosse tot by kos vir vegans.
Kaartjies is reeds beskikbaar en Danie sê een gelukkige kaartjiehouer gaan ‘n Smile Makeover ter waarde van R50 000 wen.
Verskeie kunstenaars, onder andere Kurt Darren, Karen Zoid, Martin Bester en Eloff gaan deur die loop van die dag en aand optree.
Henry Bruinette is weer die seremoniemeester vir die dag. Hy is al ‘n bekende by feeste en weet net hoe om die gehoor aan die lag en op hul voete te hou.
“Ek is van dag een af betrokke by die Glimlagfees,” vertel hy. “Daar is min dinge wat mense so gelukkig en tevrede maak soos heerlike samesyn, musiek, om bolla los te maak en jou heupe te skud.
“Dis die Glimlagfees. Samesyn, saam sing, partytjie, dis die GLIMLAGFEES! En dis waarom ek altyd deel van die Glimlagfees sal bly.”
Bowenal is Henry en Danie dit eens, dis vir hul lekker om deel van ‘n span te kan wees wat ‘n verskil kan maak in kinders se lewens.
Vir meer inligting oor die fees besoek gerus https://www.facebook. com/glimlagfees. Inligting oor die Smile Foundation is beskikbaar by https:// smilefoundationsa.org/.
