Eertydse ysskaatsbaan word leefstylsentrum
Die Vaaldriehoek gaan eersdaags 'n nuwe leefstylsentrum hê. Lees meer...
VAALPARK. – Daar is groot woeligheid aan die gang waar die ysskaatsbaan eens op ‘n tyd vir ure se pret gesorg het.
‘n Groot projek is besig om vorm aan te neem. Eienaar Gert Janse van Rensburg sê teen Desember behoort die nuwe Proudly Vaal Lifestyle Centre klaar te wees.
Die nuwe sentrum gaan ‘n groot inspuiting vir die area wees met ‘n verskeidenheid winkels en bedrywighede, wat onder andere ‘n motorwassery, haarsalon vir kinders, paddle tennis en ‘n axe throwing area sal insluit.
“Ons gaan ook sowat 1 000 bome aanplant. Nie net binne die grense van die leefstylsentrum nie, maar ook langs die pad wat lei na die rivier toe,” het Gert verduidelik.
‘n Diereplaas waar stadskinders nader met plaasdiere kan kennis maak word ook in die vooruitsig gestel.
“Ons maak slegs van plaaslike besighede gebruik vir die oprigting van die heining en al die konstruksiewerk. Hierdie is ‘n projek vir die gemeenskap, deur die gemeenskap,” het Gert verklaar wat ‘n groot hart vir die Vaaldriehoek en sy mense het.
Die groot restaurant word behou en die ou ysskaatsbaan self word in winkels omskep.
Stap deur die groot saal en die bekende reuk eie aan ‘n ysskaatsbaan hang steeds in die lug.
Jonger mense ruik dit glad nie, maar vir die ouer garde bring dit baie herinneringe terug.
Die geluid van die skaatse oor die ys, die musiek, die rubber langs die baan waarop jy met jou skaatse mag geloop het, die winkeltjie in die hoek waar hul viennas en chips menigmaal hitte in my koue vingers gebring het terwyl Pa gesukkel het om my ysskaatse af te kry. (Ek was net 5 jaar oud, en kon nie die sware skaatse self aan en uittrek nie.)
‘n Ysskaatsbaan sal dit nooi weer wees nie. “Nie met Suid-Afrika se kragkrisis nie,” skud Gert kop, maar dis goed om te weet dat die kompleks wat gaan verrys, weer vir nuwe generasies herinneringe sal bring.
