Van kampioenbokser na Harvard-student
Die kampioenbokser Chris van Heerden, is nou ’n student aan een van Amerika se top universiteite.
MASSACHUSETTS. – Chris van Heerden, ‘n oudleerder van die Hoërskool Dr. Malan in Meyerton en kampioenbokser wat deesdae in die Verenigde State van Amerika bly, het pas met ‘n Crossover Into Business-kursus by die Harvard Universiteit in Massachusetts begin.
Harvard Universiteit is ‘n privaat “Ivy League”-universiteit in Cambridge, Massachusetts wat in 1636 gestig is en is die oudste instansie van hoër onderwys in die Verenigde State van Amerika. Die invloedryke Universiteit word as een van die mees gesogte universiteite in die wêreld beskou.
Harvard se Crossover Into Business-program is ‘n opleidingsprogram wat professionele atlete help om hul sakevernuf ontwikkel deur saam met MBA-studentmentors te werk.

Oor die volgende paar maande sal Chris se MBA-studentmentor hom help om sy sakevernuf te ontwikkel en hom te bemagtig om beter sakebesluite te neem, alles op ‘n manier wat by Chris se besige lewen pas, aangepas is vir sy belangstellings en deur middel van die Harvard Sakeskool se gevallestudie-metode.
Die program duur ‘n semester lank en is ontwerp om professionele atlete te help om beter voorbereid te wees vir besigheidsaktiwiteite tydens en ná hul aktiewe sportloopbane.
Die kursus het op 17 September afgeskop en duur tot in Desember.
Aan die einde van die studietydperk sal Chris ‘n finale aanbieding moet indien waarop hy geevalueer sal word.

Chris sal gedurende die komende semester gevallestudies ontleed en deur leermateriaal werk en gereeld met sy MBA-studentementor skakel.
Studente wat vir die kursus ingeskryf is word aangemoedig om die meeste van die kursus te maak en verskeie ure per week aan hul studies af te staan. Vaalweekbald wens Chris alle sterkte met sy studies toe!

