Oud-onderwyser in hospitaal na ongeluk
'n Bekende oud-onderwyser van Vereeniging sterk tans in die hospitaal aan nadat hy verlede naweek in 'n ongeluk op die Heidelberg-pad (R42) betrokke was.
VEREENIGING. – Mnr. Pierre le Roux, onder leerlinge bekend as “Porky”, is ‘n bekende ou-onderwyser by Hoërskool Drie Riviere.
Volgens Hedri Brehem, mnr. Le Roux se dogter, was hy omstreeks 09:00 Saterdagoggend (16 September) met sy DKW na ‘n motorskou naby Tuinland-kwekery in die omgewing van Mooilande-kleinhoewes onderweg toe die ongeluk gebeur het.
Le Roux was in Heidelberg se rigting op die R42 onderweg toe ‘n ander voertuig van agter af met sy voetuig gebots het.
“Toe hy wou regs draai het ‘n voertuig van agter af gekom en hom aan die regterkant probeer verbysteek en hom gestamp,” vertel Brehem.
Le Roux se familie het hom na die ongelevalle-eenheid van ‘n plaaslike hospitaal geneem waar hy tans aansterk.
Brehem het Donderdag laat weet dat dit beter met haar pa gaan.
“Hy is besig om bietjie bietjie wakker te word en hy reageer as ons met hom praat,” het sy laat weet.
Le Roux sou Vrydag teater toe gaan sodat sy wonde skoongemaak kon word en daar na sy beserings gekyk kan word.

