Polisie trek sluier oor moorde in CW-buurte
Tot op hede het die Polisie ook nog nie die publiek versoek om na vore te kom met enige inligting oor misdaad in die CW-buurte, of oor die ses bevesdigde moorde wat reeds in die gebiede plaasgevind het nie.

VANDERBIJPARK. – Die Sedibeng Polisie weier volstrek om insidente te bevestig of inligting met die media en publiek te deel, kompleet asof hulle ‘n sluier van geheimhouding oor die misdaad skrikbewind in die CW gebiede getrek het.
Dit is die beeld wat geskep word nadat kapt. Fikile Funda – Sedibeng SA Polisiediens se amptelike woordvoerder, verlede week weer genader is oor die ses bevestigde moordie in die gebied die afgelope paar maande.
Die polisie het wel ontken dat dit die werk van ‘n reeksmoordenaar is.
Funda het geweier om te sê of enige verdere moorde bo en behalwe die ses bekende gevalle in CW-gebiede plaasgevind het nie en of enige arrestasies al plaasgevind het nie.
“We are not going to give a blow-by-blow account of investigations on crime in the CW areas,” het Funda telefonies aan Vaalweekblad gesê. Hy het ook nie gereageer op geskrewe vrae nie.
Die zero-inligting standpunt van die Polisie het negatiewe reaksie uitgelok in die sakegemeenskap en politieke kringe.
Dis algemene kennis dat ‘n oningeligde gemeenskap nie misdaad kan voorkom nie.
“Niemand verwag dat die Polisie sensitiewe ondersoekinligting moet verklap nie, maar inligtng om die publiek bewus te maak van misdaadtendense is sekerlik toelaatbaar en tot almal se voordeel,” het een kenner gesê.
Hierdie kortsigtige besluit kan die gemeenskap, wat ekstra oë en ore vir die polisie kan wees, se vertroue in die polisie net tot ‘n nuwe laagtepunt dryf”, het Klippies Kritzinger, CEO van Vaal Business Co-operation (VBC), aan Vaalweekblad gesê.
