Duisende polisielede in hegtenis geneem vir strafregtelike oortredings
Die Vryheidsfront Plus sê dit dui op hoe diep misdaad in die polisie gewortel is.
Altesaam 5 489 polisielede is sedert die 2019/20-boekjaar in hegtenis geneem vir strafregtelike oortredings.
Van die 5 489 inhegtenisnames was 383 weens ernstige misdade soos moord, verkragting en veediefstal.
Die minister van polisie, Bheki Cele, het hierdie syfers onlangs aan die Vryheidsfront Plus bekend gemaak nadat ʼn gebrekkige inligtingstelsel enkele weke gelede as verskoning aangevoer is oor waarom die syfers nie beskikbaar was nie.
Die Vryheidsfront Plus het die afgelope week in ʼn verklaring gesê dié syfers wys hoe diep misdadigheid in die polisie wortel geskiet het.
Van die 383 ernstige misdade waarvoor lede in hegtenis geneem is, was 84 vir moord, 109 vir roof, 79 vir verkragting, 29 vir veediefstal, 4 vir transitorooftogte en 78 vir ontvoering.
Volgens die minister is geen polisielid vir betrokkenheid by ʼn plaasmoord in hegtenis geneem nie.
Dr. Pieter Groenewald, die VF Plus leier, sê: “In sy ontwykende antwoord in Julie het die minister gesê hy is ‘ten volle bewus van die ernstige implikasies’ van polisielede se betrokkenheid by misdaad en veral van die impak daarvan op die publiek se vertroue in die polisie.
“Hy het gesê dit is noodsaaklik dat ʼn stelsel “in plek moet kom” om al die inligting oor polisie-betrokkenheid by misdaad byeen te bring, te kontroleer en te verifieer.
“Dit blyk dat dit nou wel gedoen is nadat die VF Plus daarop aangedring het dat die antwoorde voor 30 September (vandeesmaand) verskaf word.”
Groenewald sê dit is onaanvaarbaar dat daar eers druk op die minister geplaas moes word voordat ʼn stelsel in plek geplaas is om die omvang van misdadigheid onder polisielede deur ʼn databasis gereeld op te dateer.
“Sonder gedetailleerde inligting kan daar geen voorkomende stappe in plek gestel word om misdadigheid te voorkom of om daadwerklik daarmee te handel nie,” sê Groenewald.
Hy sê hierdie syfers wys duidelik dat daar ʼn groot probleem met misdadigheid in die polisie is en die publiek nie kwalik geneem kan word indien hulle toenemend vertroue in ’n polisiediens te verloor wat deur onbevoegde persone bestuur word nie.
