Student kritiek na breinstam beroerte
Die ouers van Lerisha Visser (20) vra dat mense vir hul geliefde dogter bid.
MEYERTON. – ‘n Oudleerling van die Hoërskool Dr. Malan is aan suurstofmasjiene by ‘n Bloemfonteinse hospitaal gekoppel nadat sy Woensdagaand (20 September 2023) skielik ‘n kardio-vaskulêre ongeluk (beroerte) gehad het.
Lerisha Visser het in 2020 aan die Hoërskool Dr. Malan gematrikuleer en is tans ‘n BCom (Regte)-student in haar tweede jaar aan Eduvos in Bloemfontein..
Lerisha se vriendinne het haar Woensdagaand bewusteloos in die badkamer van haar koshuiskamer aangetref en met haar na die ongevalle-eenheid van die Mediclinic Bloemfontein Hospitaal gejaag.
Daar het dokters haar lewe met behulp van kardiopulmonêre resussitasie en ander mediese ingrypings gered.
Sy lê tans in die kritiekesorgeenheid van die hospitaal maar is aan masjiene gekoppel.
Volgens Lerisha se ma, Monica Visser, het Lerisha ‘n bloedklont in haar long gehad wat veroorsaak het dat sy nie kon asem kry nie.
Omdat sy nie asem kon kry nie het sy ook ‘n hartaanval gehad.
Vaalweekblad verstaan dat haar breinstam beseer is weens ‘n tekort aan suurstof.
Monica het vroeër vandeesweek ‘n opdatering oor Lerisha se toestand gegee: “Sy lyk so pragtig, haar lyfie straal, maar die masjiene haal nog vir haar asem. Hou asseblief net aan met bid vir volkome genesing.”


