VLU beste in die Vrystaat
Die plaaslike tak van die Vrystaat Vroue Landbou-Unie het goed gevaar by die provinsiale kongres in Bloemfontein. Lees meer...
SASOLBURG. – Area 1 van die Vrystaat Vroue Landbou-Unie (VVLU) is as die beste in die Vrystaat aangewys by die provinsiale konferensie wat in Bloemfontein aangebied is.
Hulle het boonop ook ‘n verskil in kinders se lewens gemaak. Sasolburg se Alpha-tak is deel van Area 1 en die dames het rede om trots te voel oor die groot prestasie.
Area 1 bestaan uit takke van Sasolburg, Edenville, Koppies, Holfontein, Parys, Kroonstad en Steynsrus. Alpha se lede het verskeie pryse ingepalm.
Voorsitter Rina de Klerk het ‘n trofee ontvang vir haar gebottelde appeljellie. Sy het ook ‘n derde plek verower in die gebak-afdeling.
Elsa Brits se foto het die hoogste lof verdien en sy het dan ook ‘n eerste plek met haar foto behaal.
“Parys se lede het ook baie goed gedoen. Die kompetisie was straf met items van besonder hoë gehalte. Ons was oorstelp van vreugde toe Area 1 as algehele wenner aangekondig is,” het Rina gesê.
Een van die hoogtepunte van die konferensie was die meer as 700 gebreide beertjies was aan twee skole vir gestremde leerlinge in Bloemfontein oorhandig is.
Rina sê almal het saamgespan en die miniatuurbeertjies gebrei waarop die boodskap, ‘Jy is genoeg’, verskyn het.
Die provinsiale konferensie was een vir die boeke. Dit was huidige VVLU president, Gerda Pienaar se laaste konferensie as president na ‘n termyn van ses jaar.
“Die konferensie was een van die bestes wat ek in my meer as 30 jaar as lid bygewoon het.”
Die sprekers het groot name soos Derrich Gardner van RSG en dr. Gustav Gous ingesluit. Die bekende sanger, Jak de Priester was die gaskunstenaar.
Die konferensie is deur 250 VVLU lede van al 11 areas bygewoon. “Almal het dit baie geniet en dit is goed om te sien dat die VLU nog sterk staan in die Vrystaat,” Rina afgesluit.
