OntbytSAKE sukses vir Valies
Ons hou duimvas vir een van Vanderbijlpark se konstruksiemaatskappye.
VANDERBIJLPARK.- Een van die Vaal se konstruksiemaatskappye, Vingro Construction is benoem in ontbytSAKE se Onderneming van die Jaar 2024 toekennings.
Eienaar mev. Tiepie Grobler sê hulle is verras deur die benoeming. “Ons het vir ‘n insetsel op ontbytSAKE betaal om die onderneming te adverteer. ‘n Paar weke later het ons die brief ontvang dat ons benoem is vir die toekennings. Dit is vir ons ‘n groot eer.”
Die toekennings sal tydens ‘n gala-geleentheid in Mei 2024 plaasvind . Mev. Grobler sê Vingro is ‘n familiebesigheid wat in 2002 deur haar man, wyle At Grobler gestig is.
Hy is in 2021 oorlede, maar sy gesin gaan voort om sy drome te verwesenlik. Tiepie was vir jare deel van die bankwese alvorens sy haar man eers op ‘n tydelike en later permanente basis met sy boeke gehelp het.
Die besigheid het intussen gegroei met talle geboue en komplekse wat al deur die maatskappy van beplanning tot inhuldiging deurgevoer is in die Vaaldriehoek.
Tiepie word bygestaan deur haar dogter, Suné Naude wat die besigheid se boeke doen, suster Adri Gerber wat as ontvangsdame werk en haar seun Adriaan Gerber wat die kosteberamer is.
“My pa was 40 jaar in die boubedryf en dis vir ons ‘n voorreg om met sy werk te kan aangaan,” het Suné gesê.
Vaalweekblad hou duimvas dat hierdie plaaslike maatskappy volgende jaar met die louere sal wegstap.
