Talentvolle dromer
Maak nader kennis met 'n man wat groot droom en hard werk, Brandan die man agter die Diamond of the Vaal Pageant
VANDERBIJLPARK. – Vir sy kliënte is hy hul gunstelinghaarkapper. Die een wat net weet hoe om hul mooi te laat lyk, goed te laat voel en te laat ontspan.
Brandan Erxleben is al vir langer as vyf jaar eienaar van sy eie salon in Vanderbijlpark. Hierdie jaar het hy ook die wêreld van skoonheidskompetisies betree en die eerste Diamond of the Vaal Pageant met groot sukses aangebied.
Brandan het in Vanderbijlpark grootgeword en was in Laerskool Parksig en HTS Carel de Wet. Na skool het hy haarkappery en besigheidsbestuur in Durban studeer voordat hy na sy geboortedorp teruggekeer het.
Sy werk is sy passie en van stilsit is daar nie sprake nie. Wanneer hy nie by die salon of by die pageant betrokke is nie, bied hy ook modelklasse aan.
Diamond of the Vaal lê hom na aan die hart. “Die pageant is nie net sommer vir mooi lyk nie. Daar is al juis met ‘n skoonmaakprojek begin,” vertel hy rustig in sy salon.
Ten spyte van sy besig wees, straal Brandan ‘n kalmte uit. Hy is by uitstek ‘n introvert, maar sy teenwoordigheid motiveer en inspireer.
Wanneer hy wel ‘n blaaskans neem, verkies hy om tyd saam met sy familie en vriende te spandeer en natuurlik sy twee Border Collies. Gun hy homself ‘n vakansie, verkies hy die stilte van die berge.
“Dan sluit ek af en gaan na plekke waar daar nie eens selfoonsein is nie,” glimlag hy. Brandan glo daaraan om elke dag ‘n verskil in ander se lewens te maak.
Hy werk hard, droom groot en vat elke projek aan met ‘n “just do it” perspektief. Sy raad aan ander is, “always stay true to who you are. Know your value, cause your worth more than people take you for.”
